4 maande gelede
Kleitrappery oor steeg grond
DIS GESIGN: Frank Klaasen wys die brief wat deur die destydse munisipale bestuurder geteken is. Foto: ISAAC CLOETE  ~ 

’N PLAASLIKE munisipaliteit trap lelik klei oor die uitverhuur van sy grond.

Die twis oor die huur van die lappie grond duur al agt jaar.

Dié grond-issue het al selfs ’n draai in Springbok se plaaslike hof gaan maak.

Die geoloog Frank Klaasen, wyle Henk Hopley (Krymekaar Trust) en die Nama Khoi-munisipaliteit (NKM) staan te midde van die stryd.

Klaasen vertel hy het in Junie 2011 vir die verhuring en aankoop van ’n stuk grond (’n steeg van sowat 700 m²) aansoek gedoen. Dit grens oos van sy huidige erf.

Dis deur die destydse DA/Cope-raad goedgekeur, luidens ’n skrywe (in Son op Sondag se besit), gedateer 29 Desember 2011.

In die skrywe, geteken deur Aubrey Baartman (toe munisipale bestuurder), word gemeld Klaasen moet tot vroeg Januarie 2012 wag.

Blikkantien

Dit was wanneer die kantore van die landmeter en waardeerders sou heropen vir die nuwe jaar. Daarna sou sy aangeleentheid (aansoek) administratief afgehandel­ word.

Volgens Klaasen was dit die “laaste sien van die blikkantien”, want die NKM het nooit weer na hom teruggekom nie

Intussen was Hopley (voor sy dood in 2015) naarstiglik op soek na parkering vir staatsvoertuie ná die losslaan van ’n vet kontrak by die Noord-Kaapse wetgewer.

Hy’t Klaasen gesoebat om ’n deel van sy erf te verhuur teen R500/maand vir 15 jaar. Klaasen sê hy het geweier omdat hy self planne met die grond gehad het.

Samantha Titus, munisipale bestuurder van die NKM, sê egter: “Klaasen moet maar hof toe gaan. Ons het geen bewyse dat daar ’n raadsvergadering oor die steeg was nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters