17 dae gelede
‘Kinders moet van skoolwerk leer, nie seks’
Van die bose: Eerw. Oscar Bougardt sê die onderwysdepartement is daarop uit om kinders die verdoemenis in te lei.Foto: Eldridge Jason  ~ 

KINDERS se taal- en wiskundevaardighede moet opgeskerp word. Nie hulle kennis van seks nie.

Só sê die omstrede eerw. Oscar Bougardt, wat al telkens in die verlede in die warmwater was oor sy omstrede uitlatings teen gays.

Bougardt sê hy is net so gegrief oor die beplande kurrikulum vir lewensoriëntering (LO) vir gr. 4’s vanaf volgende jaar.

Dit raak hom ook as ouer van ’n laerskool- en hoërskoolleerder, sê hy.

Nie net gaan gr. 4’tjies grootoog leer oor hulle eie private parts en dié van die teenoorgestelde geslag nie, maar op hoërskoolvlak sal daar glo van onnies verwag word om gesprekke met leerders te hê oor masturbasie en orale, vaginale en anale seks, asook hoe om ’n vroulike kondoom reg te gebruik.

Paniek

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderrig (DBO), het vroeër dié week verskeie organisasies daarvan beskuldig dat hulle doelbewus verkeerde inligting oor aspekte van volgende jaar se LO onder ouers versprei om paniek te saai.

Maar Bougardt sê hy het al vroeg in die jaar snuf in die neus gekry oor die DBO se planne.

“As ouer stuur ek my kind skool toe om skoolwerk te gaan leer, nie om van seks te gaan leer nie.

“Die regering se plan is om homoseksualiteit aan ons kinders af te smeer. Ons kinders makeer hulp met hulle tale en wiskunde, nie hierdie vullis wat hulle aan ons kids wil afsmeer nie.”

Bougardt sê hy het saam met verskeie skoolhoofde en onderwysers gepraat wat ook reeds die 2020-skooljaar vrees.

“Hierdie onderwysers weet nie wat hulle gaan doen nie, want niks is met hulle bespreek nie.

“ ’n Skoolhoof het aan my gesê hy weier om sulke goed by sy skool toe te laat en hy gaan eenvoudig nie die leerders daaraan blootstel nie.

“Ek het al agtergekom as die regering nie iets kan beheer nie, dan wettig hulle dit.

“Dit is die skool se werk om ons kinders te onderrig en die taak van ons as ouers om ons kinders sek­sueel op te voed.

“Hoekom leer hulle nie eerder ons kinders die gevare van gangsterism en tronke nie?” wou ’n ontstelde Bougardt weet.

Duiwel

Oor die DBO se voorgenome planne, het ’n ouer gesê: “Die Here moet ons help. Wat is volgende?

“Hierdie hele besigheid is van die duiwel af.”

Nog ’n ouer voel dat as haar kind van seks moet leer, dan moet dié baie persoonlike lesse kom van háár, die kind se ouer.

André de Bruyn, Wes-Kaapse hoof van die Educators Union of South Africa (Eusa), sê hulle gaan die DBO se beleidsdokument rakende die LO-kwessie bestudeer, waarna hulle oor hulle standpunt sal besin.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
13 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters