2 maande gelede
Halwe huis, volop reën, geen hoop
moedeloos: Lionel Links wys na die dak wat in sy tjops is weens die brand. Foto: ISAAC CLOETE  ~ 

’N GESTREMDE gesin struggle om letterlik en figuurlik kop bo water te hou.

Buiten die feit dat hulle huis sowat drie jaar gelede half afgebrand het, struggle hulle om emmers water uit die woning te hou wanneer dit reën.

Dit is die treurige verhaal van Lionel en Annie Links van Matjieskloof naby Springbok.

Hulle huis het op 22 Oktober 2016 half afgebrand en is steeds in ’n vervalle toestand.

Lionel vertel: “Ons deels verstandelik gestremde seun was die oorsaak. My vrou was in die Kaap en ek by vriende toe hy die huis aan die brand gesteek het.

“Hy het toe weggehardloop, maar gelukkig het ek die rook gesien. Ek moes van die ruite stukkend slaan om te kyk wat binne aan die gebeur was.”

Volgens Lionel kon die brandweer en helpers die vuur op ’n manier help blus.

’n Gedeelte van die asbesdak, sowel as die hoofslaapkamer en ander kamer is in puin gelê.

Beloftes

Op advies van familie het hulle vir veiligheidsredes alle elektriese bedrading laat uittrek. Die Linkse het nou geen krag nie.

Annie sukkel op ’n stofie om iets gaar of ten minste warm te kry en maak gebruik van kerslig.

Hulle grootste hartseer is egter die klomp beloftes wat verskeie mense, maar veral politici, kom maak het.

’n Familielid, Alicia Sauls, vertel dat sy ’n week gelede ná goeie reëns weer emmers vol water moes gaan uitskep om die gesin se tydelike hoofslaapkamer “leefbaarder” te maak.

Volgens haar behoort die plaaslike munisipaliteit beter na die mense om te sien.

Vernon Swartbooi van die Nama­Khoi-munisipaliteit se afdeling vir rampbestuur, sê hulle wag op befondsing om die gesin te help.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters