5 maande gelede
Grondeis dalk sukses
wag al lank: Oom Klaas en antie Magrieta Basson hoop om binnekort hulle grond te hê.Foto: isaac cloete  ~ 

NÁ 23 jaar van wag is die afhandeling van ’n grondeis moontlik in sig vir ’n klein gemeenskap.

Hulle is die inwoners van Loeriesfontein, naby Calvinia, in die Namakwa-distrik.

Ná meer as twee dekades kan hulle nou meentgrond (24 020 morg) en saailande (9 559 morg) terugkry.

Dis grond wat jare gelde van hulle voorouers sonder vergoeding ontneem is.

Behalwe ’n gesamentlike gemeenskapseis is daar ook twee aparte eise van twee families.

Een van die families is ’n bejaarde egpaar, antie Magrieta Basson (75) en haar man, oom Klaas (78).

Volgens antie Magrieta het hul voorouers op die grond gewoon. Gedurende 1860 het sir George Grey (toe goewerneur in die Kaapkolonie) dit aan die voor­ouers geskenk.

Dit was voor die stigting van ’n dorpsraad of munisipaliteit.

Sy sê: “Ons voorouers het sertifikate vir okkupasiereg van die goewerneur ontvang.

“Hulle kon op die grond boer en lewende hawe aanhou. Dit was goeie jare.”

Luidens dokumentasie is ’n dorpsbestuurraad in 1905 gestig.

Dit is later deur blankes oorheers. Hulle het stelselmatig die bruin okkupeerders van hulle grond verdryf. In 1938 is alle meentgronde aan dié raad gegee in terme van die Kroonwet.

Volgens navorsing en gesprekke met inwoners het dit vanaf 1948 al slegter met die bruin boere hier gegaan.

Baklei

Deur middel van die Loeriesfontein Landbou-ontwikkelingsforum (LLOF) het David Ockhuis as voorsitter namens die families ’n restitusie-eis op 25 Junie 1996 ingedien.

Die Basson-egpaar se eis behels sowat 11 erwe wat toe van hulle voorsate ontneem is.

Antie Magrieta vertel dat sy hierna vir jare feitlik alleen namens ander baklei het dat die eis afgehandel moes word.

Weens mismoedigheid het baie wettige grond-okkupeerders (begunstigdes) oor die jare heen tou opgegooi en hulle erwe prysgegee.

“Die wit mense hier het baie bedrog gepleeg en die grond vir groot geld verkoop. Ek wil net hê dat geregtigheid moet seëvier. Ons behoort ook vergoed te word omdat ons nie verder op ons grond kon plant en boer nie,” het Magrieta vertel.

Clement Modise van die departement landelike ontwikkeling en grondhervorming in Kimberley wou nie reageer toe hy gevra is waarom hulle so lank sloer om die grondeise af te handel nie.

Volgens Kolie Farmer (begunstigde) weet hy self nie wat aangaan nie. Hy sê: “Ek het nie fondse om die eis te bespoedig nie. Elke vyfde jaar (verkiesing) verwys die regering na die eise, maar ons wag nou al vir meer as 20 jaar.”

’n Munisipale amptenaar in Calvinia het anoniem aan Son op Sondag vertel dat verteenwoordigers van dié kantoor op 7 Maart ’n site visiting op die geëiste gronde sou doen. Dit is ter elfder ure afgestel.

“Ek is intussen na Kimberley ontbied om op Dinsdag 26 Maart met hulle te vergader oor die grondeis,” sê die amptenaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters