27 dae gelede
Eskom-plan gestop
Aan, vir eers: Springbok se inwoners sug van verligting nadat Eskom sy planne om die krag af te skakel, voorlopig laat vaar het.  ~ Isaac Cloete

DIE Nama Khoi Munisipaliteit (NKM) het daarin geslaag om Eskom se beoogde planne te fnuik. Vir eers.

Dit volg nadat die kragverskaffer gedreig het om die munisipaliteit se kragtoevoer af te sny.

Dit sou dié week vanaf Dinsdag 21 Januarie gebeur het.

Die NKM in Springbok staan dit egter teen in die hof.

Derhalwe het die hof eers Eskom se beplande aksies ter syde gestel. Dit gaan oor die NKM se groot skuld aan Eskom.

In November 2019 het Eskom reeds deur middel van ’n openbare advertensie aan inwoners kennis gegee dat hy die kragtoevoer van die NKM vroeg in 2020 sporadies sou afsny weens wanbetaling.

Dieselfde advertensie het laas week in die pers verskyn.

Dit is welbekend dat die NKM Eskom meer as R113 miljoen skuld.

Samantha Tatas-Titus, munisipale bestuurder, sê egter sy verstaan nie waarom Eskom sulke drastiese stappe wil doen nie ten spyte van ’n afbetalingsooreenkoms wat steeds en gereeld nagekom word.

Riaan Cloete, burgemeester van die NKM, het die publiek dié week die versekering gegee geen krag sal afgesny word nie.

Cloete sê die NKM het Eskom gedwing “om na die tafel te kom”.

Om dié rede het Eskom eers sy planne laat vaar om die kragtoevoer van hierdie munisipale gebied af te sny.

Cloete vertel verder: “Eskom moet voor 10 Februarie hofstukke indien om aan te dui waarom hy die krag mag afskakel. Die volgende hofdatum sal daarna op 20 Februarie wees, indien nodig.”

Dit lyk egter of daar moontlik nie noodwendig met die hofverrigtinge hoef voortgegaan te word nie. Dis nadat die hof na albei partye se hofstukke gekyk het.

Die NKM hou vol dat Eskom verkeerd, onredelik en foutiewe berekeninge doen omdat die munisipaliteit steeds gereeld betalings (persentasiegewys, soms meer) aan die kragverskaffer doen.

Soweto

Ontstoke inwoners skerts en wil weet of die skuld dan nie ook gedeeltelik afgeskryf kan word nie. Ander wil weet waarom die Eskom-skuld van munisipaliteite in die Oos-Kaap afgeskryf is.

Enkeles vra waarom Soweto se inwoners al so lank toegelaat word om geen Eskom-rekenings te betaal nie.

  • Intussen is daar nuwe woede onder Suid-Afrikaners omdat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) glo nuwe wetgewing voorberei oor die aanskaf van kragopwekkers en sonpanele.

Daarvolgens sal inwoners eers moet registreer en dan ’n lisensie moet uitneem as hulle sonpanele of kragopwekkers wil aanskaf.

Ted Blom, ’n energiekenner, is besig om die publiek hierteen te waarsku en om die gedagte te beveg.

Blom glo grootskaalse korrupsie gaan nog onverpoos by Eskom voort met behulp van die politici.

  • Intussen het die NKM ’n stemboodskap (audio voice note) oor koopkrag wat die ronde doen, ontken. Daarvolgens sou koopkrag van 21 Januarie tot 21 Februarie nie meer beskikbaar wees nie. Volgens die NKM geld die inligting in die boodskap beslis nie vir mense van die NKM-gebied nie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters