9 dae gelede
Dis goud werd vir diamantdelwers
Werk saam: Chris Kimber en Paul Swartbooi (regs).  ~ Isaac Cloete

SOMMERSO uit die bloute lyk dit of die del­wersgemeenskap tog voorspoed kan beleef.

Dié optimisme volg nadat Gwede Mantashe, die minister van minerale hulpbronne en energie, die Richtersveld onlangs besoek het. Mantashe het self kom uitvind wat die stand van kleinmyn-delwery is.

Ná samesprekings met onder andere Paulus Swartbooi, leier van die BondelSwart Nama Tradisionele Owerheid, is met Lower Orange River (LOR) Diamonds ’n ooreenkoms vir ’n projek beding.

Hiervolgens sal plaaslike delwers toegelaat word om te delf op dele wat Chris Kimber, eienaar van LOR Diamonds, beskikbaar gaan stel.

Swartbooi sê: “Dit gaan werkloosheid hokslaan en onwettige delwery keer.

“Ek is bly dat die mense van veral Sanddrift hierdie projek sien as ’n geleentheid om vir hulleself te delf.”

Aanvanklik gaan 20 mense die kans kry om te delf. Teen volgende maand sal nog 20 toegelaat word. Delwers van ander dorpe, onder meer Port Nolloth, sal volgens Swartbooi ook ’n beurt kry.

Hy sê: “Ek baklei hierdie saak eerbaar en ons gaan die projek ’n sukses maak. Ek baklei dié stryd vir Namaland se mense. Ek het nie ’n maatskappy nie of ek het nog nie diamante gekry nie. Dit gaan oor die herstel van die Nama-mense se regte. Onthou, ek moes oor hierdie saak in die hof gaan staan.”

Intussen het ’n klein groepie begin vrae vra oor die samesprekings wat Swartbooi met LOR Diamonds gehad het. Hulle voel Swartbooi het hulle nie betrek of verteenwoordig nie.

Swartbooi glo weer baie mense soek nou erkenning nadat hy jare gelede vir die Namas begin veg het.

Dawid Marcus van Hondeklipbaai dink die inwoners moenie toeskouers in hulle eie gebied wees nie. Hy glo aan reëls en regulasies en nie aan die “voorwaardes van die verdrukkers” nie.

“Die mynbase wil nie graag deel nie; daarom vertrou ek hulle en die regering nie.”

Intussen wag baie kleinmyndelwers dat hulle met delf kos op die tafel kan sit.

Volgens Swartbooi begin die projek binnekort. Hy het Kimber bedank vir sy bydrae tot die opheffing van die swak sosio-ekonomiese toestand in Namaland. Kimber kon teen druktyd nog nie vir kommentaar bereik word nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters