17 dae gelede
Daar’s nie harmonie oor bouery
ONMIN: Harmony Estate se inwoners is gekant teen die bouprojek. Foto: ISAAC CLOETE  ~ 

SPRINGBOK. – Inwoners van ’n gegoede woonbuurt skop vas oor piepklein erwe wat die waarde van hulle eiendomme kan verlaag.

Die inwoners van die oorwegend­ bruin spogbuurt Harmony Estate­ naby Springbok is baie ongelukkig oor die beplande ontwikkeling.

Die herrie gaan oor die herver­deling en hersonering van ’n aantal erwe naby hulle woongebied.

Dié erwe behoort aan Heinrich Saaiman, ’n plaaslike tekenaar uit ’n voorheen benadeelde gemeenskap. Weens stygende boukoste het Saaiman baie gesukkel om genoeg kapitaal vir ’n bouprojek bymekaar te maak.

Toe hy uiteindelik ’n paar jaar gelede finansiering kon kry, het hy twee skouhuise op die erwe opgerig.

Onlangs het hy besluit om van die erwe te verdeel. Hulle is meer bekostigbaar vir die gewone mens, reken Saaiman.

Inwoners van Harmony Estate is egter erg ontsteld nadat die herverdeling en hersonering van die erwe rugbaar geword het.

Hulle moes in ’n koerant-advertensie uitvind Cornam Property­ Development is die ontwikkelaars van die projek.

Die aansoekers vir die verdeling is CD Venter Landmeters.

Geleentheid

Om die inwoners se vrese te probeer besweer, het Gerhard Jordaan van CD Venter Landmeters onlangs verteenwoordigers van Harmony Estate ontmoet.

Jordaan help die proses aandryf om 17 erwe te laat herverdeel en het namens Saaiman opgetree.

By die meeting het Jordaan gesê: “ ’n Mens moet Saaiman se inisiatief bewonder, want hy gee nou aan diegene die geleentheid om ook ’n woning te bekom wat dit nie voorheen sou kon doen nie.”

Volgens Jordaan hoef die bestaande waarde van Harmony Estate­ se eiendomme nie noodwendig negatief deur die projek beïnvloed te word nie.

Die inwoners stem nie hiermee saam nie en is sterk gekant teen hierdie soort gemengde behuising.

’n Inwoner, Pietman Henry, het beswaard gesê dié tipe behuisingsprojekte gaan beslis hulle huiswaarde laat daal.

Op die vergadering het dit juis aan die lig gekom dat daar 12 duplekswoonstelle in ’n ry gebou gaan word.

Behalwe dít gaan daar ook 22 kleiner wonings oorkant hierdie woonstelletjies gebou word.

Volgens Samantha Titus, die munisipale bestuurder, het die Nama Khoi Munisipaliteit absoluut niks met die herverdeling van die grond te doen nie omdat dit nou privaat grond is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters