Verlede jaar
Cyril vereer 40 persone met Ordes
SWIERIG: Pres. Cyril Ramaphosa kom by die Nasionale Ordes-seremonie in Pretoria aan. Foto verskaf  ~ 

PRES. Cyril Ramaphosa het vanjaar se nasionale ordes aan uitstaande plaaslike burgers en uitnemende buitelanders gister tydens ’n seremonie by die presidensiële gastehuis Sefako Makgatho in Pretoria toegeken.

Ramaphosa het in dié seremonie die Orde van Ikhamanga, die Orde van die Kremetart, die Orde van Luthuli en die Orde van die Metgeselle van OR Tambo aan die verdienste­like ontvangers oorhandig.

Die lys van 40 vereerdes sluit in oudadjunkhoofregter Dikgang Moseneke, die aktrise Lillian Dube en die Russiese ambassadeur Alexander Sergeevich Dsasokhov.

In sy toespraak het Ramaphosa gesê die nasionale ordes gee erkenning aan uitstaande individue wat ondanks groot teenstand, ’n reuse­bydrae in talle lewensfere kon lewer.

“Ons vryheid het die deure vir geleenthede oopgemaak sodat baie van ons ons drome kan najaag om sodoende ander te kan inspireer om uit te styg bo dit wat hulle gedink het moontlik is.

Steun

“Ons wy vanjaar se seremonie aan die herinnering aan oudpres. Nelson Mandela, wat meer as enige ander die gees en strekking van dié ordes beliggaam,” het hy gesê.

Die president het ook erkenning gegee aan die steun van die inter­nasionale gemeenskap deur die Orde van die Metgeselle van OR Tambo (Goud) aan vier voormalige staatshoofde toe te ken. Hulle is Joaquim Chissano van Mosambiek, Sam Nujoma van Namibië, Ellen Johnson Sir­leaf van Liberië en wyle sir Ketumile Masire van Botswana.

“Ons vereer ook daardie buitengewone mense wat ons mense bygestaan het en wat materiële en ander hulp verleen het aan ons studente, aktiviste en stryders. Daarom wil ons ons diepste en ewige dank teenoor hulle uitspreek dat hulle by ’n struggle betrokke geraak het wat nie hulle s’n was nie,” het hy gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters