Verlede jaar
ANC-konferensie propvol drama
ruk: Alle aanduidings was teen gisteroggend daar dat die ding gaan ruk by die ANC se kieskonferensie vir 2017.Foto: NETWERK24  ~ 

DAAR is geen twyfel daaraan dat die ANC se 54ste nasionale verkiesingskonferensie propvol verassings en drama is nie.

En die heel eerste sarsie verrassingskote is gister deur die uittredende president van die ANC, Jacob Zuma, afgevuur toe hy aangekondig het dat tersiêre opleiding vir arm studente van nou af gratis gaan wees.

Met dié aankondiging het Zuma effektief die Heher-kommissie oor die lewensvatbaarheid van gratis tersiêre onderrig ter syde gestel.

Die Heher-kommissie het vroeër bevind dat Suid-Afrika nie oor die kapasiteit beskik om gratis tersiêre onderrig aan alle studente beskikbaar te stel nie.

Maar volgens Zuma sluit dié gratis onderrig tersiêre fooie, voorgeskrewe studiemateriaal, maaltye, huisvesting en/of vervoer in.

Die nasionale finansiële hulp­skema vir studente (NSFAS) se program sal aldus Zuma van lenings na 100%-toelaes omskep word.

Hierdie aankondiging kan beskou word as ’n laaste gryp na strooihalms om Nkosazana Dlamini-Zuma te versterk in haar poging om haar eksman as ANC-president op te volg. Dinge loop tans egter ver van hunky dory af vir NDZ.

Die KwaZulu-Natalse hooggeregshof het ’n aansoek vir verlof tot appèl toegestaan wat ingedien is deur die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC onder leiding van Sihle Zikalala.

Regter Rishi Seegobin het bevind die PUK sal ontbind bly, afhangend van die bevinding van ’n appèl ingedien by die appèlhof, sowel as die moontlikheid dat die kwessie dalk in die grondwethof kan draai.

Vervang

Dié kwessie het in die hof beland nadat ’n groep ontevredenes hul tot die hof gewend het oor die uitslag van 2015 se PUK-verkiesing.

Zikalala is tot PUK-voorsitter verkies. Hy het Senzo Mchunu toe vervang.

Lawrence Dube, ’n takvoorsitter, het hom egter tot die hof gewend om die uitslag van Zikalala se verkiesing te bevraagteken.

Regter Seegobin se uitspraak beteken dat die PUK, wat Dlamini-Zuma as ANC-voorsitter ondersteun, sy 27 stemme verloor wat aan elke provinsie toegestaan word.

Dié lede kan egter die konferensie as waarnemers bywoon indien hul tak hulle kies om hom by die konferensie te verteenwoordig.

Intussen het nóg ’n plan van Zuma ge-backfire toe die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) sy voorstel van ’n aparte stemproses vir die posisie van president en adjunkpresident afgeskiet het.

Die voorstel was deel van ’n vroeëre voorlegging deur Zuma dat die naaswenner van die presiden­siële wedloop die kans gegun moet word om die party se adjunkpresident te word.

Die party se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, het besluit dat daar niks skort met die ou manier van dinge doen nie.

Dit is om faksiestemmery te vermy wat kenmerkend van die party se verkiesings geword het.

“Dit gaan neerkom op ’n do or die situasie,” het ’n NUK-lid in die Dlamini-Zuma-kamp aan News24 gesê.

Die oorspronklike plan was om die benoemings vir die ampte van president, voorsitter, sekretaris-generaal en tesourier-generaal teen gister af te handel en dan die onderskeie wenners teen vandag aan te kondig. Mantashe het gesê dat alle streke vir die verkiesingskonferensie geregistreer is en dat verrigtinge teen 14:00 gistermiddag in volle swang sou wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters