4 maande gelede
Ambulans vol mense rol weens ’n rukwind
ONGELUK: Die ambulansbussie kon nie weerstand bied teen ’n sterk rukwind op die N14 nie.Foto: ISAAC CLOETE  ~ 

’N AMBULANS vol pasiënte het onlangs weens ’n rukwind gerol.

Die ambulans was vanaf Springbok na Kimberley op pad toe die fratsongeluk op die N14 gebeur het.

Daar was 18 passasiers in die ambulansbussie toe hy tussen Aggeneys en Pofadder vermoedelik deur ’n sterk wind van die pad geruk is. ’n Band het hierna gebars en toe rol die bussie.

Die pasiënte moes Maandag ná die ongeluk opvolgondersoeke in Kimberley ondergaan.

Lulu Mxekezo, woordvoerder van die Noord-Kaapse departement van gesondheid, sê die drywer en 18 pasiënte het wonderbaarlik aan die dood ontkom.

Sy voeg by: “Vyf pasiënte moes per noodvlug na die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley vervoer word.

“Ag van hulle is in die hospitaal in Springbok behandel en daarna ontslaan. Tans lê ses nog in dié hospitaal vir behandeling.”

’n Egpaar, George en Rose Thomas, was ook in die ongeluk.

George het dié week aan Son op Sondag vertel die ongeluk het skielik gebeur.

Volgens hom het hy net donkerte gesien nadat die ambulans op sy dak gerol het. Hy het die ongeluk toegeskryf aan die hewige rukwind.

George het kop- en borsbeserings opgedoen en is een van die beseerdes wat nog in die Springbok-hospitaal lê.

Besoek

Rose, wat ook veelvuldige beserings opgedoen het, is vroeër ontslaan.

Die LUR vir gesondheid in die Noord-Kaap, Fufe Makatong, het die voorval betreur en die beseerdes sterkte toegewens nadat sy hulle in die hospitaal in Kimberley gaan besoek het.

Intussen is die plaaslike inwoners steeds geskok oor die ongeluk. Baie voel dat die groot afstande, onvoldoende ambulanse en oorwerkte mediese personeel in die Noord-Kaap toenemend die risiko van sulke ongelukke inhou.

’n Paar jaar gelede het ’n ambulansdrywer van Springbok ook sy lewe verloor toe hy naby Kimberley teen ’n koedoe gebots het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters