14 dae gelede
Alle rolspelers moet onderwys help ophef
donker: So moet laerskool onnies sonder lig klasse gee.  ~ 

DIE matrieks van 2018 is in totale ekstase oor hulle eindeksamen-uitslae.

Oor die land heen is daar gesien hoe vreugdevolle matrieks mekaar omhels en met hulle prestasies gelukwens.

Luidens die syfers wat die nasionale minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, aangekondig het, het meer as 78% van alle matrieks geslaag. Dit was ’n verbetering op die net meer as 75% van 2017 se matrieks.

Maar nie almal is daarvan oortuig dat die land se matrieks so goed gevaar het nie.

Dit is veral die DA wat aanvoer die werklike slaagsyfer lê onder 38%.

As die DA se waarneming van die matriekslaagsyfer waar is, sit die land met ’n krisis van epidermiese proporsies.

Dan beteken dit mos veel minder van die land se matrieks het eintlik verdien om te slaag – wat ’n mens niks anders kan laat dink nie as dat ’n grootskaalse knoeiery met die slaagsyfer plaasgevind het. Ook dat die kwaliteit van ons matrikulante ná 12 jaar op die skoolbanke glad nie so wonderlik is nie.

Die Wes-Kaap het byvoorbeeld lank koning gekraai wat die matriek-uitslae betref.

In 2017 het die Vrystaat die ander provinsies bloedneus geslaan en in 2018 was dit Gauteng wat geskitter het.

Is die Wes-Kaap se standaarde dan besig om te daal? Word daar genoeg aandag geskenk aan die uitdagings wat veral matriekleerders op die Kaapse Vlakte in die gesig staar?

Dit gaan nie ’n ommekeer in die onderwys veroorsaak deur net die handboeke betyds by skole af te lewer nie.

Alle rolspelers in die onderwys- en die maatskaplike sektor sal skouer aan die wiel moet sit om te verseker die Wes-Kaap kraai weer koning en die Oos-Kaap word opgelig uit die agste posisie uit nege wat hy tans beklee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters