3 jaar gelede
Winnie Rust gemartel tot sy die PIN van haar bankrekening gegee het
beskuldigde: Johannes Plaatjies is in die selle. FOTO VERSKAF  ~ 
beskuldigde: Johannes Plaatjies is in die selle. FOTO VERSKAF
klomp kroon: Marquerrette de Jager sê Boeta het ’n rolletjie geld gehad.
SKELM: Martha Matthys sê Boeta is gemors. Foto’s: WESLEY MARTIN

JOHANNES Plaatjies (34) het glo die vermoorde Wellingtonse skrywer Winnie Rust gemartel totdat sy hom die PIN van haar bankrekening gegee het.

Vriende en familie van Plaatjies het dié week aan Son op Sondag gesê hy het ’n swart rugsak vol geld gehad nadat hy Rust se bank­rekening byna leeg getrek het.

Marquerrette de Jager, ’n familievriend, het laas Woensdag – die dag van Rust se dood – Plaatjies by haar huis met ’n “rolletjie geld gekry”.

“Hy het nuwe klere aangehad. Hy het vir mense geld ook geleen.”

Sy sê Plaatjies het hierna weer na die bank gegaan om nog geld te trek.

“Hy het teruggekom met ’n nuwe paar wit-en-swart Nike Air Max-tekkies van R1 300.

“Maar jy kon sien hy het k*k aangevang, want hy wou net op en af. Hy was rusteloos.”

Hy is hierna glo met sy nuwe klere op ’n taxi na Montagu, waar hy vandaan is.

Sy glo Nigel Plaatjies (18), nog ’n beskuldigde in die moord op Rust, is deur Plaatjies beïnvloed. “Nigel is nie ’n deurmekaar kind nie.”

De Jager vertel Plaatjies het selfs eendag ’n vuur­wapen in haar huis weggesteek.

“En hy het daai gun gebruik om Nigel mee te dreig.

“Nigel was net die kaart vir Boeta om by Rust uit te kom. Boeta het alleen die ding gedoen,” sê De Jager.

Maria Matthys, ’n familielid van Plaatjies, sê Boeta is ’n “gemors”.

“Hy kom weg met alles. Daar is al hoeveel klagte teen hom, van veediefstal tot inbraak, maar hy kom elke keer daarmee weg. Ons familie hou nie van hom nie. Hy is ’n skelm.”

Jacky Johnson, ’n familievriend, sê daar is glo ’n laptop, foon en nuwe klere by Plaatjies gevind.

Hy is na bewering vroeg Maandag­oggend kaal in Ashbury in hegtenis geneem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters