2 maande gelede
Winkelier is glo drive-by skeller
gatvol: Zain Abrahams sê hulle is nou al moeg van die rassisme in die dorp.FOTO’S VERSKAF  ~ 

RIEBEEK-WES. – “Vir julle Hotnots skiet ek vrek!”

Dié gewraakte woorde is glo deur die eienaar van die plaaslike Pick n Pay aan betogende inwoners toegesnou.

Riebeek-Wes was onlangs aan die brand toe ontevrede inwoners die strate ingevaar het om oor ’n gebrek aan behuising te betoog.

Die vlamme is dalk lankal geblus, maar die betogers sê Nicky Koegelenberg se rassistiese dreigement smeul nog in hul harte.

Koegelenberg ontken egter op sy beurt dat hy ooit dié dreigement geuiter het, wat nog van die H-woord.

Hy sê die waarheid sal seëvier.

Die voorsitter van die Riebeek-Wes-gemeenskapspolisiëringsforum, Zain Abrahams, sê dis toe hulle op 11 Junie in die dorp betoog het dat Koegelenberg met ’n stink spoed verby hulle gejaag het.

Abrahams vertel: “Dis toe dat hy skree: ‘Vir julle Hotnots skiet ek vrek!’

“Ek en Nicky ken mekaar redelik goed, maar ek het nooit kon dink dat hy sulke gedagtes teenoor ons koester nie.”

Abrahams dreig dat die inwoners dié ding nie net daar sal laat nie.

Hy meen: “Ons het met ’n groot gesukkel ’n klag by die polisie gelê, want hulle wou ons saak eers nie vat nie.

“Ons het ook die Menseregtekommissie van die voorval verwittig, en gaan voor Koegelenberg se winkel picket.”

Abrahams braak gal: “Dié is maar een van die baie rassistiese voorvalle in ons dorp.

“Hier wil die wit mense nie eens hê ons mense moet saans laat in die dorp rondloop nie.

“Ons mag nie eens funksies in die stadsaal hou nie.”

Koegelenberg sê dié aantygings teen hom is alles vals.

Hy sê: “Ek gaan die polisie later sien.

“Daar was mense saam met my wat sal getuig van die teendeel.

“Hy (Abrahams) moet lekker wees.

“Ek wil nie eintlik kommentaar lewer nie, want ek wil nie reageer op goed wat nie waar is nie.

“Die reg moet sy gang gaan.”

Gegriefde inwoners het gister uit protes teen Koegelenberg se beweerde rassistiese uitlating heeldag voor sy winkel­ ge-picket.

Toe Son op Sondag Pick n Pay om kommentaar nader, het ’n woord­voerder, Janine Caradonna, gesê dis die eerste keer dat hulle van dié bewering hoor.

Haar reaksie was: “Ons sal kommen­taar lewer sodra ons die bewerings ondersoek het.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters