4 maande gelede
Welkom, Wynmaker
trotse ma: Serena Plaatjies is baie opgemaak met haar seun Denzel Swarts.Foto’s: GREGORY NOBLE  ~ 

‘EK HET hier op die plaas onder baie moeilike omstandighede grootgeword.”

Só vertel die wynmaker Denzel Swarts van Stellenbosch oor die dae toe hy nog net gedroom het om eendag sy eie wyn te maak en ander te help bemagtig om die greep van armoede te verswak.

Vandag het Swarts sy eie wynreeks, Son of the Soil. Hy het besluit om vir die eerste drie jaar die winste van die reeks aan liefdadigheids­organisasies te skenk.

“Ek het op wynplase grootgeword en dit was altyd ’n droom om my eie wyn te maak, maar weens finansiële redes was dit nie moontlik nie.

“Maar ek het vir myself gesê ek gaan nie my drome prysgee nie en met die hulp van bo het ek uitgestyg bo my omstandighede.”

Denzel vertel hy het homself aangemoedig dat hy dit gaan maak werk.

“Ek was nie tevrede om net ’n gewone werker te bly nie en het begin om elke sent te spaar.

“Ek het in my matriekjaar gebunk om ’n kursus te gaan doen in landbou, want my hart het gebrand om wyn te maak.

“My ma het later uitgevind daarvan en ek het toe my matriek gaan klaarmaak.”

Maar Swart sê hy het geweet die landboukursus gaan hom nader daaraan bring om sy droom waar te maak.

Hy het toe op die plaas Simonsig gaan werk, waar Maureen Basson, wat ook sy mentor was, hom die geleentheid gebied het om wyn te maak.

“My oupa Michael Swarts en my ma, Serena Plaatjies, wat albei op die plaas gewerk het, is my groot inspirasie en dryfveer.

“Ek dank die Here vir my ma, want sy het baie hard op die plaas gewerk en ons het geleer om met min geld klaar te kom.

“Met die min geld kon ek darem by kursus in landbou en mentorskap voltooi.”

Die wynreeks Son of the Soil is toe uiteindelik twee weke gelede gebore en dit was ’n groot mylpaal in Swarts se lewe.

Hy het besluit om sy sukses te deel en hy mentor tans twee jong seuns van Mitchells Plain.

Hulle reis vroeg in Januarie 2019 na Panama op ’n pelgrimstog om hulle te help bemagtig.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters