3 maande gelede
Tamaryn se kroon geen verrassing
Adrienne Thomas sê dis geen verrassing dat Tamaryn die kroon ingepalm het nie.  ~ 
vroeg-vroeg: Tamaryn was in gr. 11 die Hoërskool New Orleans se pragtige Miss New Orleans.FOTO VERSKAF
was daar: Twee van Tamaryn se oud­onnies, Liezl Adams (links) en Melanie Prins, het die kroning gaan bywoon.
Adrienne Thomas sê dis geen verrassing dat Tamaryn die kroon ingepalm het nie.
breëbors: Andrew Groeneveld sê Tamaryn was uit die staanspoor ’n uitblinker op hoërskool.

TAMARYN Green, die nuwe Mej. Suid-Afrika, laat die leerders van haar voormalige skool breëbors rondstap.

William Lloyd Primêr in die Paarl is in rep en roer.

Nie net omdat Tamaryn (23) laas Sondag die mees gesogte kroon in die land ingepalm het nie, maar omdat sy die tweede oudleerder van dié skool is wat haar stempel in die skoonheidskompetisie afdruk.

Tammy-Anne Fortuin, wat in 2002 eerste prinses in die Mej. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie was, is ook ’n oudleerder aan William Lloyd.

Streef

Adri­enne Thomas, adjunkhoof, sê Tamaryn het hulle verskriklik trots gemaak.

“In ons gemeenskappe het ons ’n verskriklike gebrek aan rolmodelle.

“Tamaryn is ’n produk van hoe ons daarna streef om ons kinders holisties groot te maak.

“Ons laat kinders glo in hulself, glo dat hulle hul volle potensiaal kan bereik.

“Tamaryn se kroning was nie ’n surprise vir ons nie.

“Ons het dit van haar verwag. Van die eerste dag toe sy na hierdie laerskool gekom het, was daar iets spesiaals aan haar.”

Andrew Groeneveld, skoolhoof van die Hoërskool New Orleans, waar Tamaryn in 2012 gematrikuleer het, sê toe sy in gr. 8 by hulle kom, het hy geweet sy is ’n pakket met goeie eienskappe.

“Tamaryn was in 2010 ons Dux-leerder. In 2011 was sy die skool se Miss New Orleans en in 2012 was sy nie net ons hoofmeisie nie, maar ook die skool se A-kandidaat.

“Sy baseer haar lewe op drome. Hierdie drome maak sy dan haar lewensdoelwitte en maak dit dan haar werk om hulle na te streef.

“Voor haar kroning het sy die skool besoek en leerders herinner om hul drome na te volg. Die Maandag ná haar kroning, was almal hier in ekstase.”

Liezl Adams en Melanie Prins, twee van Tamaryn se hoërskoolonnies, het ál die pad Johannesburg toe gevlieg om die kroning­seremonie by te woon.

Adams sê: “Dit was amazing, ’n belewenis.

“Dit was ’n hoendervleis-oomblik om te sien hoe stap iemand wat uit ons gemeenskap kom, op daardie wêreldverhoog uit.”

Prins was net so opgemaak met hul oudleerder.

“Daar was nooit enige twyfel dat Tamaryn sou wen nie.

“Haar skoonheid kom van binne, dít is hoekom haar natuurlike skoonheid so mooi is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters