5 maande gelede
Tamaryn het amper nie ingeskryf nie
Baie trots: David en Ellirene Green sê hulle is dankbaar oor die dinge wat hul dogter in die lewe vermag.  ~ 
fraai: Almal is geïnspireer deur Tamaryn se kroning. Foto: Netwerk24
beeldskoon: Die mense na aan haar sê Tamaryn se ware skoonheid lê binne haar. FOTO VERSKAF
peuter: Tamaryn Green se ouers sê sy was van kleins af iemand wat ander se belange op die hart gedra het. FOTO VERSKAF
Baie trots: David en Ellirene Green sê hulle is dankbaar oor die dinge wat hul dogter in die lewe vermag.

BAIE bly. Baie opgemaak. Baie trots. Baie dankbaar...

Só het David en Ellirene Green hul dogter se prestasie beskryf.

Volgens David het hy nooit in sy wildste drome kon dink dat Tamaryn as Mej. Suid-Afrika gekroon sou word nie.

Die trotse pa sê hy het eintlik bly hoop dat Tamaryn die laaste ses maande van haar mediese studies aan die Universiteit van Kaapstad sou voltooi.

“Ons het Tamaryn oorreed om haar studies eers hierdie jaar klaar te maak en dan volgende jaar vir Mej. Suid-Afrika in te skryf.

“Sy het ingestem, maar ek kon sien sy voel nie lekker daaroor nie.

“Met die provinsiale uitdunne by GrandWest het sy gevra ons moet gaan inloer sodat sy kon sien wat op haar wag.

“Maar toe ons daar kom, het ek hond se gedagtes begin kry toe ek sien met watse purpose sy die plek binnestap.”

David sê Tamaryn het hulle later daardie aand gesê sy wil graag vanjaar inskryf.

“Haar hart was daarin, so wie is ek as ouer om in haar pad te staan?

“Tog het ek heimlik nog gehoop dat sy haar studies vanjaar sal kan voltooi. Maar toe ek my kind tydens die eindronde op die verhoog sien, het ek besef sy staan eintlik ’n baie goeie kans om te wen.”

Tamaryn se ma, Ellirene, sê voor die kies van die top-12 het hulle nog gewik en geweeg of hulle vliegtuigkaartjies vir die eindronde moet bespreek.

“Tamaryn het toe vir my ’n SMS gestuur en gevra of ons dan nie in haar glo nie ... en gesê ons moet die kaartjies boek.

“En voor die eindronde het sy nog vertel hoe mooi en hoogs intelligent die ander deelnemers was.

“Maar dis hoe my kind nog altyd was. Dinge gaan nie net oor haar nie.”

David meen alle ouers kan ’n les leer uit Tamaryn se sukses.

“Ek dink baie kinders ontwikkel weens die angste van die ouers nie tot hul volle potensiaal nie.

“Tamaryn het haar nie laat vaspen nie. En onderrig en geleenthede vir die jeug is baie belangrik vir haar.

“As ouers moet ons ons kinders toelaat om hul drome na te jaag.”

David en Elli­rene sê hulle is vol vertroue dat hul dogter ná haar jaar se Mej. Suid-Afrika-verpligtinge haar studies gaan voltooi.

Haar plan is om dan as pediater te gaan praktiseer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters