24 dae gelede
Rawsonville se mense march
staan saam: Die inwoners sê hulle weier om langer afgeskeep te word. Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

RAWSONVILLE. – Hulle weier dat hul plaaslike munisipaliteit van hulle vergeet.

Só voel inwoners van die plaaslike plakkerskampe Pookie Town, Riverbank, Hammat Square en Geelkamp.

Ontevrede inwoners het gister die strate ingevaar om protes aan te teken oor die Breedevallei-munisipaliteit hulle glo afskeep.

Die organiseerder van die march, Aubrey Otto, sê hulle is nou net mooi dik vir hul munisipaliteit.

“Ons informele nedersettings het nie krag nie en ons soek eienaarskap van die grond waarop ons tans bly.

“Ons mense bly in haglike omstandighede. Ses huisgesinne moet een buitetoilet deel.

“Verder wil die Breedevallei-munisipaliteit ons skuif na ’n behuisingsprojek in Worcester en ons weier om daarheen te trek.”

Begroot

’n Inwoner, Sophie de Klerk, sê sy bly al meer as 50 jaar in die area en gaan nie langer die Breedevallei-munisipaliteit se houding teenoor hulle duld nie.

genoeg is genoeg: Sophie de Klerk (links) en Aubrey Otto sê hul plaaslike munisipaliteit luister nie na hul griewe nie.­ Foto’s: ELDRIDGE JASON
waar’s die liefde? Hierdie jong mans sê hulle gaan hulle dood kry by die beoogde behuisingsprojek in Worcester.

“Sedert 1994 is daar geen huise hier gebou nie.

“Niks word eenvoudig vir Rawsonville begroot nie. Die munisipaliteit budget eerder vir ’n heining vir die sportgronde wat in die boeregebied geleë is.

“Breedevallei vat ons nie kop toe nie. Ons mense is besig om te vergaan onder werkloosheid en drugs, maar die munisipaliteit weier om saam ons om ’n tafel te sit sodat ons eerder kan praat as om met mekaar te baklei.

“Die meeste inwoners van hierdie plakkerskampe is die resultaat­ van plaasuitsettings.”

Antie Susanna Solomons (80) sê sy kan nie langer so lewe nie.

“Ek het twee gestremde kinders na wie ek moet omsien en dis nie lekker om so te bly nie.

“In die nag moet ons in die donker toilet toe gaan. Wat kan nie als met ons daar gebeur nie?

“Verder is dit verskriklik koud en nat en moet ek saans met ’n klomp klere aan slaap.”

’n Woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit, Johan Botha, sê: “Die reg van die publiek om by wyse van ’n wettige optog te protesteer, word erken.

“Die munisipaliteit sal die versoek(e) wat ontvang word, bestudeer en daarop reageer.”

Neil Mercuur, die speaker, het in ’n skrywe aan die gemeenskap gesê daar is nie vir 2018/19 se finansiële boekjaar begroot vir behuisingsprojekte in Rawsonville nie.

Luidens die brief wat Son op Sondag onder oë gehad het, sê Mercuur ook die kwessie van elektrisiteit is Eskom se baby en geen addisionele toilette sal vir die onderskeie gemeenskappe beskikbaar gemaak word nie, want hul standaard is een toilet vir elke vier gesinne.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters