5 maande gelede
Pleegma ‘pleeg ’n euwel’
beskermend: Die nuwe pleegma sê haar pleegkind is deur diep waters. Foto’s: Basil Davids  ~ 

ASHTON. – ’n Seuntjie hier is na bewering deur sy gewese pleegma gemartel.

Die outjie, nou sewe jaar oud, is blykbaar telkemale verbrand.

Sy naam word weerhou omdat hy minderjarig is.

Daar word beweer die betrokke pleegma het die klonkie se boudjies op ’n tweeplaatstofie verbrand.

Dit was glo ook nie net ’n eenmalige besigheid nie.

Die klonkie se voetjies toon ook nog letsels van waar die pleegma hulle glo in kookwater gedruk het.

Volgens die nuwe pleegma is die seun nou reeds byna vyf jaar in haar sorg.

Volgens haar het die biologiese ma destyds gesê die outjie se eerste pleegma het haar weggewys toe sy op ’n dag haar kind wou besoek.

Die ma het toe opgemerk dat haar kind snaaks loop en baie huilerig is.

Toe sy die pleegma vra wat die kind makeer, het sy net gesê daar is niks fout nie.

Maar die ma het lont geruik en die merke aan sy voetjies opgemerk. Toe sy na ander brandmerke op sy liggaam soek, het sy gesien die kind se boudjies was ook lelik verbrand.

Die pleegma se storie was toe dat die kind hom so verbrand het toe hy in ’n bad warm water geklim het.

Die nuwe pleegma sê die vorige vrou het die kind nooit eens vir behandeling na ’n dokter of hospitaal geneem nie.

“Enige mens kan mos duidelik sien daai merke wat nou permanent op sy boudjies is, is deur ’n tweeplaatstofie veroorsaak,” het die mammie in trane gesê.

Die seuntjie het op sy beurt vertel sy eerste pleegma het hom gereeld op ’n warm plaat laat sit of sy voetjies in kookwater gedruk.

Dit wil ook voorkom asof die kind honger gely het.

Hy ruk in sy slaap en staan snags op en pak kos in ’n kussingsloop en steek dit dan weg.

Hy kry ook nog nagmerries en maak die bed gereeld nat.

Die kind kan glad nie aan sport deelneem nie, want hy loop mank.

Nou soek die pleegma dringend hulp van professionele mense wat die kind kan help sodat hy die lewe van ’n normale kind kan lei.

Sihle Ngobese, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, sê die departement sal toesien dat ’n maatskaplike werker van die plaaslike kinderbeskermingseenheid so spoedig moontlik vir hulp en ondersteuning na die betrokke pleegma uitgestuur word.

Die eerste pleegma het intussen ’n lange gegooi en kan nêrens opgespoor word nie.

Lesers wat hulp wil aanbied, kan die pleegma by 071 994 0012 bel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters