Verlede maand
Ontmande oom voel 'gekrok'

WORCESTER. – “Hulle het my gekrok.”

Die bitterheid sit vlak in oom David Petersen (82) se stem as hy praat van die dag toe hy albei sy testikels verloor het.

Daardie galbitter dag lê reeds vyf jaar in die verlede, maar oom David onthou dit asof dit maar net gister was.

’n Stoere vryheidsvegter was die oom in sy dae.

Maar nou is sy dae gevul met ’n struggle om van punt A na punt B te beweeg.

Oom Dave, soos hy alom in Worces­ter bekend staan, glo vas sy plaaslike hospitaal het hom inderdaad ’n kop aangesit ... en aspris sy twee manwees-enjins verwyder.

Oom Dave het in 2014 ’n orgiëktomie by die Worcester Provinsiale Hospitaal ondergaan waartydens albei sy testikels verwyder is.

Dis gedoen nadat prostaatkanker reeds in 2002 by oom Dave gediag­noseer en behandel is.

Oom Dave glo egter vas dit was glad nie nodig om sy testikels te verwyder nie. Hy is daarvan oortuig dat hy vir sy pyn, lyding en huidige vernedering vergoed behoort te word.

“Ek is nie eens seker of daai twee skapies vir dokters bevoeg was om die prosedure op my te perform nie,” sê oom Dave.

“Hulle het my gekrok, man. Hulle het my gekrok.

“Vergeet maar van ’n sekslewe, want ek is anyway al té oud daarvoor­.

“Maar ek kon voor die operasie dinge vir myself doen. Nou kan ek dan nie eens meer tot by my hekkie stap nie.”

Oom Dave sê dit is veral sy vrou, Katie, wat hy baie jammer kry.

“Ek moet nou ’n kimbie dra en as ek myself vuil maak, moet my vrou my skoonmaak.

“As pensioenaris kan ek nie hierdie kimbies aldag bekostig nie en moet nou met vinding­ryke idees vorendag kom om die urine op te skep.

“Die departement van gesondheid kan maar sê wat hy wil, maar hierdie operasie is deur skapies gedoen wat hulself as dokters voordoen.”

Toestemming

Maret Lesch, Wes-Kaapse gesondheidswoordvoerder, sê in die lig van hulle professionele en vertroulikheidsplig teenoor oom Dave, kan hulle nie veel van sy mediese rekords bekendmaak nie.

Volgens Lesch het oom Dave in 2014 in die Worcester Provinsiale Hospitaal ’n reddingsprosedure ondergaan.

“Die aard en doel agter die operasie is aan hom (oom Dave) ver­duidelik en hy het sy skriftelike toestemming daarvoor gegee.

“Tydens sy opname in die hospitaal het hy behandeling ontvang vir ’n ander toestand en die betrokke operasie is deur ’n bevoegde span onderneem.”

Volgens Lesch het die bestuur van die Worcester Hospitaal en die Wes-Kaapse departement van gesondheid op verskeie geleenthede met oom Dave en sy familie ver­gader om sy ontevredenheid te bespreek.

“Die klaer is steeds meer as welkom om sy kwessies met die hospitaal te kom bespreek vir verdere duidelikheid,” het Lesch by­gevoeg.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters