5 maande gelede
Mej. SA sê jeug kan verskil maak
sê cheese: Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika, neem ’n selfie met Curtley Gertse (onderhoofseun), Cassidy Pietersen (hoofmeisie), Simone Truter (onderhoofmeisie) en Anthony Goliath.  ~ 

LEEF jou lewe om ’n na­latenskap agter te laat sodat ander na jou kan opkyk en eendag in jou voetspore wil volg.

Dít was Vrydag Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika 2018, se Jeugdag-boodskap aan leerders van skole in die Paarl-omgewing.

Green het haar toespraak by haar ou skool, New Orleans Sekondêr, gelewer.

Green sê hoewel sy die titel van Mej. Suid-Afrika dra, is sy steeds net Tamaryn van die Paarl.

“Al wat ek gedoen het, is om hard te werk om te kom waar ek vandag is,” het sy in haar inspirerende boodskap gesê.

Maar met haar kroon kom nuwe verantwoordelikhede, vertel sy.

Green sê dit is belangrik vir haar om die boodskap te deel van wat die jeug van 1976 deurgemaak het om vryheid te verseker.

“As jong mense moet ons onthou dat die jong mense van destyds vir ons vryheid geveg het.

“Nog belangriker – ons moet onthou om daai vryheid te gebruik om ons eie uitdagings te oorkom.”

Green het van haar eie uitdagings om haar drome te bereik met haar jong gehoor gedeel.

Hoewel sy teleurgesteld was om nie hoofmeisie van haar laerskool, William Lloyd, te wees nie, het dit haar nie gekeer om dié droom later by New Orleans te bereik nie.

Sy het ook verseker sy behaal A-simbole om haar ander droom, dié van mediese dokter, te bereik.

“Die onderwysers kan ook net soveel doen. Jy moet self ook harde werk insit. Gaan huis toe, haal jou boeke uit en behaal die punte wat nodig is om jou droom te bereik,” was haar raad.

“Ek het my eie uitdagings gehad. Daar was aande waar die werk te veel gevoel het wanneer ek studeer het. Dan moes ek my ouers bel om my te kom haal.

“Ek het siek geraak tydens my studies en het gevoel asof my hele lewe uitmekaar val. Maar ek het weer opgestaan en aangehou, want dit was my droom.”

Green sê almal het hul eie uit­dagings en daar gaan tye wees wanneer jy voel jy wil opgee.

“Daar is egter altyd ’n uitweg. Vra net hulp. Dit is nie ’n swakheid om hulp te vra nie,” sê Green.

“Die geleenthede is daar buite vir ons. Dit is ons tyd.

“Ons het die geleentheid om ’n verskil vir die toekoms te maak – soos die jeug van 1976.

“Ons is die toekoms. Wat ons daarvan gaan maak, is wat ons vir ons kinders agterlaat.”

Cassidy Pietersen, die hoofmeisie van New Orleans, het Green bedank dat sy haar en medeleerders daaraan herinner het om nie die vryheid waarvoor die jeug van 1976 geveg het, vir granted te vat nie.

Daar word vandag ’n amptelike homecoming vir Green in die Paarl gehou.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters