4 maande gelede
Kind sterf toe bus rol
'n Kind is dood in die ongeluk. Foto: Billy Claasen  ~ 

’N KIND het gesterf en nog een is in dieselfde skoolbus vasgekeer in ’n ongeluk wat Vrydag naby Porterville gebeur het.

Volgens die Wes-Kaapse verkeersdienste het die bus in die ongeluk gerol.

Kenny Africa, die Wes-Kaapse verkeershoof, het die ongeluk bevestig en het gesê dit het op die Dashbosch-grondpad plaasgevind.

Daar word vermoed die busbestuurder het beheer oor die voertuig verloor en het toe teen ’n boom vasgery.

Ál die ander leerders was voor die tragedie reeds by hul onderskeie plekke afgelaai.

Daar word geglo die twee kinders wat saam met die busdrywer op die bus was, was sy eie kinders, het Africa gesê.

Africa het bygevoeg toe die mediese noodpersoneel op die toneel kom, kon daarin slaag om die ongeluksbus binne te gaan.

Hulle het toe die beseerde kind gestabi­liseer.

Bevestig

Die beseerde kind is daarna per helikopter na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het egter later gesê daar was vier kinders ten tyde van die ongeluk in die bus.

Kapt. Van Wyk het gesê: “Die 73-jarige busbestuurder het bevestig dat daar vier kinders – drie seuns van onderskeidelik 3, 8 en 10 jaar oud, sowel as ’n 11-jarige meisietjie saam hom in die bus was.

“Die agtjarige het in die ongeluk gesterf.

“Die ander kinders is na ’n nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling.”

Volgens kapt. Van Wyk, is ’n saak van strafbare manslag by die plaaslike polisie vir ’n ondersoek geregistreer.

Die aard van die ander kinders se beserings was teen druktyd nog nie bekend nie.

Die plaaslike owerhede het die toneel vir leidrade gefynkam.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters