2 maande gelede
Jol-gerugte lei tot ’n klag van bedrog in raad
Petrus Herandien meld die saak by die cops aan. Foto: Ashley Harris  ~ 

’N JOLLERY het glo gelei tot die onthulling van beweerde bedrog in die Witzenberg-munisipaliteit.

Volgens Petrus Herandien, ’n raadslid van die Independent Civic Organisation of SA (Icosa), het die beweerde korrupsie uitgekom in ’n gesprek op ’n raadsvergadering tussen Joyce Phungula van die ANC en Mzwandile Jacobs van die EFF.

Volgens Phungula was Jacobs in ’n buite-egtelike verhouding met haar broer se eks-girlfriend, ene Lulama, betrokke.

Phungula het Jacobs op die vergadering beskuldig dat die DA hom ’n motor en geld gegee het.

Saam met die speaker hou Jacobs die balans van mag in die raad. Die DA het dus Jacobs se stem nodig om seker te maak hul besluite word deurgevoer.

Hy’s glo ook die voorsitterskap van die komitee vir munisipale openbare rekeninge (MPAC) be­lowe.

Die beweringe is in die teenwoordigheid van ander raadslede, insluitende die speaker, Theodore Godden van Cope, Herandien en Gert Laban van Witzenberg Aksie gemaak.

Volgens Herandien was Jacobs se reaksie aan Phangile: “Wel, ek is nie in koalisie met die DA nie.”

Son op Sondag verneem by Herandien dat Lulama as bode by die munisipaliteit aangestel is toe Jacobs nog direkteur van gemeenskapsdienste was.

Herandien het op 4 Julie ’n saak van bedrog by die Ceres-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Lt.kol. De Wet Kriel van die Ceres-polisie het bevestig ’n saak van korrupsie word ondersoek. Hy sê niemand is al gearresteer nie.

Jacobs het ook ál die beweringe teenoor Son op Sondag ontken. Hy sê hy’t sy kar in Gauteng gekoop en moes R11 000 by ’n vriend leen daarvoor.

“Hoekom sou die DA my wil omkoop? Watter baat sou hulle daarby vind? Die opposisie is net agter my pos aan omdat ek hulle uitgestof het. Nou wil hulle my naam beswadder.”

Hy vermoed rdl. Herandien sit self agter alles.

Herandien sê ook Jacobs woon nie eens in Ceres nie, maar in Worcester.

Jacobs reageer: “Ek weet nie hoekom nie, want ons het mekaar in die verlede gehelp. Ek is wel ’n boorling van Worcester, maar woon al sedert 2008 in Ceres.

“Ek is ook gelukkig getroud. Ek het die speaker dan self gevra om die storie te ondersoek.”

Monwabisi Mpeluza, die Witzenberg-munisipaliteit se direkteur van korporatiewe dienste, sê hy dra geen kennis van die beweringe nie.

Herandien sê egter hy het die klag in Mpeluza se teenwoordigheid by die speaker ingedien. “So, hoe kan hy nie daarvan weet nie?”

Herandien vra hoe die DA deursigtigheid en skoon oudits kan claim as sulke ongerymdhede en ernstige bewerings gerapporteer, maar nie ondersoek word nie.

Lulama het ook die verhouding tussen haar en Jacobs ontken.

Sy het gesê haar aanstelling was in korporatiewe dienste, nie gemeenskapsdienste, waar Jacobs die direkteur was nie.

Phungula het aan Son op Sondag gesê daar wás ’n verhouding, maar sy wou nie meer daaroor uitwei nie.

Jacobs sluit af: “Hier gaan niks van kom nie. Dit sal nou in die nuus wees en oorwaai. Ek verteenwoordig die EFF, nie die DA nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters