13 dae gelede
Hulde vir Pêrel van Paarl
ambassadeur: Chester Williams gedurende 2015 se World Cup Trophy Tour. Foto: GETTY IMAGES  ~ 

DIE skielike sterfte van Chester Williams (49) het as ’n groot skok vir almal in die rugbybedryf en rugby fans gekom.

Sosiale en hoofstroommedia is oorstroom met medelye soos oud-spanmaats, vriende en familie, en rolspelers in die rugby fraternity gereageer het op “Die Pêrel van die Paarl” se heengaan.

Peter de Villiers, voormalige Springbok-afrigter van die Paarl, sê Chessie was ’n rolmodel.

“Hier in ons gemeenskap het almal na hom opgekyk. Hy was nie net ’n Springbok nie, hy was ’n great Springbok en ’n rolmodel vir menige.

“Hy het hoop gebring en baie het geaspireer om soos Chester te wees. Die Here praat met ons,” het ’n hartseer De Villiers gesê.

Bolla Conradie, Williams se hulpafrigter by die UWK se rugbyspan en voormalige Westelike Provinsie-spanmaat, herstel steeds van die verpletterende nuus.

“Dis vir my en my familie ’n groot skok,” het Bolla gesê. “Ek was by die huis toe David Hendricks (voormalige WP- en Boland-flank) my vrou bel om te hoor of dit waar is.

“My foon was op charge in daai stadium en ek kon op haar gesig sien iets is drasties fout.

“Sy het my ingelig en ek vra haar toe ‘watter Chester?’ – só skokkend was dit vir my.

“Hy was ’n baie nederige mens, ’n man wat altyd geglimlag het en altyd tyd gehad het vir ’n selfie en geselsie met sy fans. Hy gaan ’n groot leemte laat en dis onmoontlik om só ’n man te replace.”

Williams se UWK-span het vanjaar vir die eerste keer in die Varsity Cup gespeel nadat hulle die vorige twee jaar die Varsity Shield verower het.

Niemand

Adrian Paarwater, UWK-agsteman en kaptein, sê Williams was baie fiks.

“Wanneer ons in die gym besig was, sou hy op die treadmill hardloop. Ons sou al klaar gegym wees, dan is hy steeds besig. Hy was baie fiks vir ’n man van sy ouderdom.

“Hy het in my geglo toe niemand my ’n kans wou gee nie.

“Ek speel vandag vir die WP se o. 21’s in die final en dra die wedstryd op aan coach Chester – my coach, my mentor en my vriend.”

Dolf de Wee, Williams se jare lange boesemvriend, is platgeslaan.

“Chester was die glue wat ons vriendekring bymekaar gehou het.

“Ons sou minstens een keer per maand bymekaarkom vir ’n ete in ’n restaurant of ’n braai en dan sou ons lank praat oor die goeie ou dae en sommer lekker kuier.

“Ons het nou in die bestek van ’n paar jaar twee reuse in die vorm van Chessie en Tinus Linee verloor.

“Die agterlyn raak nou uitgedun en ons sal hulle ongelukkig nie kan vervang nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters