6 maande gelede
Hof laat boer vry wegstap
JUSTICE? Roseline en haar huishouding sukkel om die uitspraak te verwerk. Foto: BASIL DAVIDS  ~ 

ASHTON. – Die tamatieboer Colin Conradie (42) is ’n vry man.

Dit volg nadat hy Vrydag in die plaaslike landdroshof vrygespreek is op die aanklag van moord op Colin Cloete (55).

Dit was nadat Cloete sowat vier jaar gelede op Conradie se plaas met ’n plastiekpyp doodgeslaan is.

Die saak is destyds aanvanklik op die klagstaat as “moord” geregistreer.

Dis egter al byna ’n jaar gelede gewysig tot ’n klag van strafbare manslag.

Die slagoffer se weduwee, Rose­line (60), het in trane uitgebars toe sy verneem Con­radie sal nie meer vir moord vervolg word nie.

Roseline sê hartseer: “Niemand – nie eens die ondersoekbeampte – het my in kennis gestel dat daar nie meer ’n moordsaak op die hofrol is nie.”

Conradie het die hofverrigtinge die laaste tyd ook nie meer bygewoon nie.

Roseline het ook altyd gewonder hoekom nie, maar niemand kon vir haar sê waarom Conradie nie meer hof loop vir haar man se dood nie.

Sy gis nou maar: “Dit was seker­ omdat die saak gesloer het en hy toe sonder my medewete nie meer hof toe hoef te gekom het nie.”

In die nadoodse ondersoek is daar bevind Cloete het baie bloed verloor uit ’n sagte plek aan sy been.

Die hof se bevinding was dat hy homself ook kon beseer het en sodoende doodgebloei het.

Daar was ook geen getuies op die toneel waar Cloete aan sy wond beswyk het nie.

Hermie Wentzel, Conradie se regsverteenwoordiger, het ook aangevoer dat Cloete homself kon beseer het of dat iemand anders hom kon aangerand het.

By Son op Sondag se besoek aan die familie was Roseline en haar kinders nog geskok oor die uitspraak.

Sy het in trane gesê: “Ons as familie gaan maar nou eers kalm bly.

“Ons sal later uitfigure wat ons gaan doen.”

Roseline sê hulle oorweeg op die oomblik regsadvies om uit te vind of hulle die saak weer op die hofrol geplaas kan kry.

Sy maan: “Wie my man doodgemaak het, sal eendag voor God rekenskap moet gee.”

Roseline se stomgeslane bure het ná die uitspraak gesê hulle sal haar ondersteun. 

ongeluk? Vrae hang steeds oor die presiese wyse waarop Colin Cloete dood is.
slagoffer: Colin Cloete se naasbestaandes is almal in skok.foto’s verskaf
JUSTICE? Roseline en haar huishouding sukkel om die uitspraak te verwerk. Foto: BASIL DAVIDS
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters