11 maande gelede
Hier’s meer as een ‘lewende dooie’
kopkrapper: Mary Nell sê haar “dood” slaan haar disnis.  ~ 

KLAPMUTS. – Ontmoet dié gemeenskap se “dooies”.

Klapmuts se lewende “dooies”.

Mary Nell (59) sê sy het in 2016 die skok van haar lewe gekry toe sy moes hoor dat sy dood verklaar is.

Volgens Nell het sy daardie jaar na die Sassa-kantore in die Paarl gegaan om haar kleinkinders se kindertoelae uit te sorteer.

“My dogter het daardie tyd die kinders se Sassa-geld misbruik en ek wou hê die geld moes uitbetaal word sodat ek kon toesien dat die geld wel by my kinders uitkom.

“By die Sassa-kantore gekom, het ’n beampte aan my gesê dat daar ’n probleem is, want ek is al in 2015 dood verklaar.

“Hy verwys my toe na die kantore van binnelandse sake in die Paarl.”

Daar gekom, het ’n nóg groter skok op Nell gewag.

“ ’n Home Affairs-beampte sê toe aan my ek is nie in 2015 dood nie, maar reeds in 2002.

“Ek het amper van die stoel afgeval. Ek mean maar, hier sê hulle ek is dood en ek weet dan van niks af nie.

hoe so? Mary Nell sê haar lewe staan stil nadat sy verkeerdelik dood verklaar is.Foto’s: ELDRIDGE JASON

“Dié beampte sê toe verder aan my dat ek in ’n ander provinsie dood is, maar ek het in my hele lewe nog nie ’n voet uit die Wes-Kaap gesit nie.”

Nou sukkel Nell vir die afgelope twee jaar om binnelandse sake sover te kry om hulle fout reg te stel.

“Ek kan nie verstaan hoe hulle só ’n fout kon maak nie. Geen doodsertifikaat is uitgereik nie en my destydse ID-dokument is nie getjap nie.

“Ek sit egter nou met die probleem dat ek volgende jaar op pension moet gaan. Tans char ek een dag ’n week en is my gesin se enigste broodwinner.

“Ek sidder om te dink wat volgende jaar gaan gebeur as binnelandse sake nie die probleem regstel nie,” sê ’n moedelose Nell.

Skaars 100 m van Nell af sit Abraham Koopman met presies dieselfde probleem.

Oom Abrie, soos wat hy in Zebra Parkstraat bekendstaan, vier volgende maand sy 62ste verjaardag.

Dis al twee jaar lank dat die oom nie pension kan trek nie, want hy is ook dood verklaar.

KASTIGE oorlede: Die 62-jarige Abraham Koopman wil weet hoe ’n “dooie” man ’n graaf dan soos hy kan vashou.

By Son op Sondag se besoek was oom Abrie besig om sy heining reg te maak.

“Ek weet nie wat gaan aan nie,” het hy in ’n sagte stem gesê.

“Maar kan ’n dooie man ’n graaf vashou soos ek dit nou doen?

“Op die oomblik help my familie my om die pot aan die kook te hou, maar ek wil nie op ander se nekke lê nie.

“Vir ’n Krismisboks sal ek dit likes as Home Affairs hulle storie agtermekaar kan kry.”

Son op Sondag het sonder sukses probeer om antwoorde by die binnelande sake-kantoor in die Paarl te kry.

Hulle telefone het net gelui en daar is g’n moeite gemaak om op navrae per e-pos te reageer nie.

’n Binnelandse sake-woordvoerder in Pretoria, Thabo Mokgala, het onderneem om agter die kap van die byl te kom.

Teen druktyd was daar egter geen verdere terugvoer van Mokgala nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters