6 maande gelede
Hartseerdag bring steeds baie trane ...
PYNLIK: Gertrude Fortuin sê sy praat nie graag oor die tragedie nie. Foto: ELDRIDGE JASON  ~ 

’N GROOT seer waaroor baie steeds nie graag wil praat nie.

Dit is eersdaags die 10de herdenking van die destydse Paarl Print-tragedie. Die Paarl Print Media Groep staan deesdae bekend as Novus Holdings.

Altesame 13 werknemers het op 17 April 2009 gesterf toe ’n brand in die fabriek uitgebreek het.

Forensiese brand-ondersoekers het later bevind die mees moontlike oorsaak van die brand was dat die olie in ’n chip fryer vlamgevat het.

Onder die slagoffers is Gerhard Mans (37), Marchelle Basson (39), Jenelle Pietersen (23), Thys de Vries (52), Eric Peters (59), Hilton Blackenberg (34), Marshall Diedericks (33), Joseph Johnson (42), Patricia Stoffels (35), Pieter Saayman (58) en Liezel Jacobs (34).

inferno: Altesame 13 mense het byna 10 jaar gelede in die vlamme omgekom. Foto: NETWERK24

Danielle Albertyn, wat 75% brandwonde tydens die ramp opgedoen het, was een van twee ander wat later in die hospitaal beswyk het.

Byna 10 jaar later is dit steeds vir baie mense moeilik om te praat oor dié hartseerdag wat hom in Dal Josafat afgespeel het.

Een so ’n mens is Gertrude Fortuin, wat op daardie tragiese dag haar eerste dag van aftrede moes geniet het.

“Ek wil nie eintlik daaroor praat nie, want dis steeds ’n baie seer saak,” sê sy in haar huis in Groenheuwel in die Paarl.

laaste HOOR: Gertrude Fortuin sê sy’t by ’n paniekerige Patricia Stoffels gehoor van die vlamme. Foto’s verskaf

“Ek het daardie oggend een van die oorledenes, Patricia Stoffels, gebel, want ek moes geld vir haar neem.

“Patricia het toe vir my gesê sy kan nie nou praat nie, want daar is ’n groot brand by hulle. Dit was die laaste keer dat ek met haar gepraat het.”

Fortuin sê sy het dadelik by haar huis uitgestorm en donker rook­wolke uit die rigting van die fabriek sien borrel.

“Ek is dadelik fabriek toe en daar het ’n klomp karre buite gestaan.

“Ons het almal buite gestaan en hoop en bid dat almal veilig was, maar toe bring hulle die lyke uit ...”

’n Huidige werker wat anoniem wou bly, het gesê hulle is in die duister oor daar geen duidelikheid is of hulle maatskappy enigiets beplan vir die 10de herdenking van die tragedie nie.

Maar volgens André Smit, hoof van Novus Holdings se druk-afdeling, beplan hulle wel om die hartseerdag te gedenk.

“As maatskappy gaan ons ’n minuut van stilte handhaaf om ons kollegas te onthou en hul lewens te gedenk. Ons sal byeenkom by die gedenkstandbeeld wat opgerig is by ons fasiliteit in Montague Gardens.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters