4 maande gelede
Groot drama oor erfplaas
ontevrede: Surita Riffel sê sy en die res van haar familie word tans uit hul erfgrond ge-con. FOTO’S VERSKAF  ~ 
op straat: Boetie Riffel het ’n hofbevel bekom en Derick Riffel – wat nog op die plaas gebly het – se besittings op straat laat uitsit.
die grond: Daar is tans groot onmin oor dié plaas van sowat 12 hektaar in Franschhoek.Foto: ELDRIDGE JASON

FRANSCHHOEK. – Die bekende Riffel-familie is tans in ’n bitter stryd gewikkel oor ’n erfplaas wat al meer as ’n eeu in die familie se besit is.

Dinge het twee weke gelede kookpunt bereik toe een van die familielede, Derick Riffel, van die plaas Bell’s Vlei afgesit is.

Surita Riffel, ’n woordvoerder vir die familie, sê hulle gaan nie handjies gevou sit en kyk hoe Boetie Riffel, hul oom, die plaas onder hulle uit steel nie.

“Hierdie ding kom al lank aan,” sê Surita.

“En onlangs het ons agtergekom dat Boetie die plaas, sonder ons medewete of toestemming, in die mark gesit het.”

Bell’s Vlei is ’n buurplaas van Leopard’s Leap, wat aan die bekende Rupert-familie behoort.

“Die skurk en vark in die verhaal, Boetie Riffel, het die plaas op ’n skelm wyse bekom en het sy broers en suster oor die laaste jare een vir een belet om daar te woon.

“Almal van hulle is op die plaas gebore.

“Volgens dokumentêre bewyse in besit van die familie, mag die plaas nooit verkoop word nie en moet dit behoue bly vir die nageslag van ons oupagrootjie en stamvader, Charles Riffel sr.

“Die bekende sjef, Reuben Riffel, is ook een van die nasate en ’n direkte afstammeling van Charles Riffel sr.

Surita verduidelik dat Boetie dit op slinkse maniere reggekry het om die plaas in sy naam te registreer.

Sy voer aan hy het met die hulp van prokureurs in die Paarl die testamente en dokumente vervals sodat hy die alleeneienaar kan wees.

Sy sê wat hulle verder grief, is dat winsbehepte eiendomsagentskappe saam met Boetie gekonkel het en dat die huidige dispuut oor die eienaarskap van die plaas heeltemal geïgnoreer word.

“Gangsters is ook al gehuur om oor die jare my oom Derick op die plaas te intimideer en aan te rand.

“Een van dié gangsters het aan ons erken dat hy gehuur is om die vuil werk te doen,” voeg Surita by.

Die Riffels het nou verskeie aanklagte teen Boetie aanhangig gemaak.

Toe Son op Sondag Boetie Riffel kontak om sy kommentaar oor die bewerings te kry, was hy gou om te sê hy’t geen kommentaar om te lewer nie.

Son op Sondag het hom daarop gewys dat hy dan nie eens die storie uitgeluister het nie.

Boetie het ons koerant toe verwys na Martin Oosthuizen, sy prokureur, wat net so suinig met kommentaar was.

“Ek kan nie kommentaar lewer nie, want hierdie is ’n hofsaak wat sub judice is,” het Oost­huizen gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters