5 maande gelede
Gerugte op berg
skrik: Mariaan Coetzee sê sy het Sharon teen haar kêrel probeer waarsku. Foto’s: Eldridge Jason  ~ 

PIKETBERG. – Sowat 5 km buite die dorp, ’n entjie teen die prentjiemooi Versfeldspas uit, lê ’n vallei met ’n natuur­like skoonheid wat jou asem wegslaan.

Maar dis ook hier waar ’n plaasgemeenskap se onskuld vir ’n ses geslaan is ...

’n Week nadat die lyk van die 26-jarige Sharon van Rooyen onder haar bed in haar ouerhuis op die Helderview-plaas gevind is, is daar steeds meer vrae as antwoorde.

Sharon se familie was onder die indruk sy is saam met haar kêrel Kaap toe om by sy mense te gaan kuier.

Maar twee weke later is haar lyk onder haar bed gevind.

Baie mense wonder hoekom niemand onraad vermoed of iets geruik het in die twee weke dat Sharon se lyk daar gelê het nie.

Maar plaaswerkers op Helderview meen die koue weer bo-op die berg, sowel as die koue sementvloer waarop Sharon se lyk gelê het, het heel waarskynlik die ontbindingsproses vertraag. Sharon se vriendin Mariaan Coetzee sê sy het haarself asvaal geskrik toe hulle op Sharon se lyk afkom.

Aangemoedig

“Eers het ons gedink dit was ou koolkos wat so geruik het, maar toe ons die bed opgelig het, het ons Sharon se lyk gekry.

“Sy was veronderstel om saam met haar ou Eersterivier toe te gaan en nie ’n lyk te wees nie.”

Volgens Coetzee het sy Sharon baiekeer aangemoedig om haar uit dié verhouding te kry.

“Sy (Sharon) en hy was sedert einde Januarie in ’n verhouding, maar ek het uit die staanspoor gesê ek hou nie van dié jong nie.

“Sharon was ’n grapjas wat altyd lekker gelag het, maar nadat sy met hom involved geraak het, het haar lag begin verdwyn.

“Hy het haar geslaan, ja. En sy moes later net agter toe deure bly en met niemand praat nie.”

Die familie se woordvoerder, Ray van Rooy, sê hulle is meegedeel Sharon is moontlik verwurg.

“Haar tongbeen is gebreek. Hier is so baie vrae, want mense hier ken nie sulke geweld nie.

“Niemand weet wat gebeur het nie. Hopelik sal die polisieondersoek die nodige antwoorde verskaf.”

Selwyn Mentoor (45), een van Sharon se bure, sê die voorval het hom diep geskok.

“Gewoonlik sien ons sulke dinge net op die TV of ons hoor dat sulke goed in die Kaap gebeur het.

“Daai man is iemand wat ek nooit vertrou het nie. Was altyd gladdebek met ’n klomp stories.”

Nog gerugte loop rond dat Sharon se selfoon met foto’s van haar en haar kêrel, sowel as haar ma se bankkaart, gesoek word.

Die polisie wou dit egter nie bevestig nie.

Al wat sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, wou sê, is dat hulle alle leidrade opvolg en dat daar nog geen nuwe verwikkelinge is nie. Sharon is gister in Piketberg begrawe.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters