8 maande gelede
Dorpsraad ‘gee ons ’n raw deal’
wanneer dan? Aubrey Wehr sê hulle word afgeskeep as dit by opheffingsgeleenthede kom. Foto’s: eldridge jason  ~ 

IN DIÉ pragtige Bolandse dorpie ken inwoners net die “raw”-gedeelte van Rawsonville as dit by opheffingsgeleenthede kom.

En wat inwoners nou nóg warmer onder die kraag maak, is die klaarblyklike planne van die Breede­vallei-munisipaliteit (BVM) om hulle tussen die nabygeleë Worcester se gangsters te gaan vestig.

’n Inwoner, Aubrey Wehr, sê die munisipaliteit het doelbewus onderhandelings om grond by boere vir behuisingsdoeleindes aan te koop, laat skipbreuk ly sodat Rawson­villers na Worcester verskuif kan word.

Wehr sê: “Hier gaan al klaar niks in Rawsonville aan nie.

“Die onderhandelings met die plaasboere oor die grond was goed op dreef en toe val alles net plat.

“Breedevallei-munisipaliteit se verskoning is nou dat hier nie huise gebou kan word nie oor hier nie grond is nie, maar die eintlike waarheid is dat hulle ons arm wil hou deur inwoners na ’n gebied te skuif waar daar gevaarlike elemente gaan uithang.”

’n Inwoner van die informele nedersetting Geel Kampie, Frans Ruiters, sê hy stem volkome saam met Wehr.

“Ek weier om te trek. Nie net gaan dit ons werk affekteer nie, maar waar gaan ons kinders skoolgaan?

“En verder gaan ons kinders blootgestel word aan bende- en dwelm-elemente wat mos weer ons huislike omstandighede deur­mekaar gaan maak.

“Hier is al klaar niks vir ons jong mense nie. Hier is geen ontspanningsaktiwiteite nie en kyk daar: Kyk hoe staan en rook die jong mense dagga.

“Moet hulle nou in Worcester aan gangsters en tik ook blootgestel gaan word?”

Die speaker van Breedevallei-munisipaliteit, Neil Mercuur, sê dit is korrek om te sê dat die munisipaliteit in onderhandelings was met verskeie grondeienaars in die Rawsonville-gebied om grond aan te koop vir behuisingsdoeleindes.

“Om te beweer die raad het onderhandelings doelbewus laat skipbreuk ly, is kwaadwillig, alarmisties en getuig van oningeligtheid,” sê Mercuur.

Volgens hom word die behuisingsnood op Rawsonville tans op 1 500 eenhede beraam.

“Enkele maande gelede (op 6 November 2017) het die uitvoerende burgemeester en lede van die burgemeesterskomitee gesprekke met ’n grondeienaar (aktiewe boer) gevoer oor moontlike grond­aankope.

“Ons moet nooit vergeet dat landbougrond deur wetgewing beskerm word nie en ook baie duur grond is nie. Die enkele grootste probleem is dat die betrokke plaasgedeelte binne die vloedvlakte van die Smalblaarrivier geleë is en deur die departement van menslike nedersettings as onveilig en ongeskik vir die oprigting van woonhuise verklaar is.

“Die provinsiale departement van menslike nedersettings in samewerking met BVM ontwikkel tans die woongebied bekend as Transhex, wat by voltooiing nagenoeg 8 000 woongeleenthede sal skep. Niemand sal gedwing word om daarheen te verhuis nie.

“Vir mnr. Wehr om te beweer dat inwoners van Transhex ‘gangsters’ sal wees, is ’n belediging vir almal wat daar gehuisves sal word.”

Mercuur sê verder hulle laat nie die jong mense van Rawsonville aan hul eie genade oor nie.

“Die burgemeester het ’n spesiale fonds vir vaardigheidsontwikkeling geskep om jong mense te help om selfonderhoudend te word.”

Maar Wehr kap terug: “Hier is niks vir ons jong mense nie – nie eens ’n biblioteek nie.

“Alles sit in die blanke gebied en ons kinders moet ver ente in die hitte aflê om by geriewe uit te kom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters