16 dae gelede
Dorp wil bou van dop shop stop
aan’t bou: Die bouery aan die drankwinkel gaan voort al maak die inwoners kapsie. Op die agtergrond is die kliniek. Foto’s: BASIL DAVIDS  ~ 

ASHTON. – ’n Drankwinkel wat naby ’n kerk en skool gebou word, slaan die inwoners dronk.

Die betrokke kontrakteur, Toueelh Page, en sy span is besig om die gebou te voltooi.

Die deure sal na verwagting voor Krismis vir besigheid oopmaak. Die eienaar van die plek, net bekend as “JJ”, is ’n Indiër wat volgens bronne in die buiteland is.

Die gemeenskap voel baie ontevrede. Hulle sê hulle is nooit in die saak geken nie.

Nico Jafta, ’n gemeenskapsleier, sê hy was baie verbaas toe hy van die nuwe drankwinkel hoor.

“Die drankplek is in die middel van die gemeenskap. Dis direk langs die kliniek,” spoel Jafta sy mond uit.

Die gebou is 200 m van die kerk en skool.

Die gemeenskap dreig nou om ’n stokkie voor die bouery te steek.

Amanda Meyer, ook ’n gemeenskapsleier, sê predikante van die verskillende kerke in die dorp het reeds ’n meeting oor die kwessie gehou.

Volgens Meyer is ál die predikante gekant teen die dop shop.

“Daar word nou beplan om ’n optog na die munisipaliteit te hou sodat die deure van die drankplek nie oopmaak nie.”

Volgens Meyer stipuleer wetgewing dat ’n drankplek nie naby ’n kerk opgerig mag word nie.

Meyer sê die gemeenskap moet ook mos hulle insette lewer oor die bou van ’n drank­winkel.

Volgens haar is die planne vir dié een nooit aan die gemeenskap voorgelê nie.

“Boonop moes dit ook in ’n koerant geadverteer gewees het,” voeg Meyer by.

Goedgekeur

AO Sylvester Joseph, ’n woordvoerder van die polisie, sê die Wes-Kaapse drankowerheid het die lisensie goedgekeur.

Joseph verduidelik dit is ’n “koop-en-loop-lisensie”.

Drank mag dus nie op die perseel gebruik word nie.

Willy-John Gordon, ’n munisipale woordvoerder, het teen druktyd nog nie aan Son op Sondag kommentaar ge­lewer oor die kwessie nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters