2 maande gelede
Dié liefde oor kleur se grens glo taboe
verlief: Nikoleta en Jolin sê hulle liefde ken geen velkleur nie. Foto: melinda stuurman  ~ 
verlief: Nikoleta en Jolin sê hulle liefde ken geen velkleur nie. Foto: melinda stuurman
dagvaar: Jolin Lucas sê hy en sy vrou eis nou R20 miljoen.

ROBERTSON. – ’n Geval van liefde oor die kleurgrens wat ’n vrou haar job gekos het?

Of ’n geval van suur druiwe van ’n voormalige werker?

Nikoleta Balassis-Lucas beweer sy is haar werk by die plaaslike Pick n Pay kwyt nadat sy op ’n bruin man verlief geraak het.

Dié bewering word egter heftig deur die betrokke Pick n Pay-eienaars, die ma en seun Helen en George Joannou (Lees: Haar voormalige werkgewer ontken), ontken.

Balassis-Lucas vertel sy het haar man, Jolin, in 2016 by haar werkplek ontmoet toe hy destyds vir ’n armed response-maatskappy gewerk het.

“Ek het daardie jaar vanuit Johannesburg na Robertson getrek omdat dit nie goed gegaan het met my besigheid nie.

“Ek is al 40 jaar vriende met die Joannou’s en het hulle gevra of hulle nie ’n werk vir my het nie,” vertel sy.

Volgens Nikoleta was alles hunky-dory... totdat sy Jolin ontmoet het.

“Ek het baie van Jolin gehou en het hom in Augustus ver­lede jaar uitgevra vir koffie, en verlief geraak op hom.

“Ons het saam ingetrek en ’n dag voor Valentynsdag vanjaar verloof geraak.”

Sy sê dis toe dat hulle probleme ’n week later begin.

“Miss Helen het my gevra hoekom ek dan ’n coloured date.

“George het my gekonfronteer en gesê dat hulle my nie Robertson toe laat kom het om in die strate van die dorp te hoer nie en gesê ek moet kies: my ras, my werk, of ’n bruin man.

“Ek het liefde gekies, want liefde het geen kleur nie.”

Op 20 Februarie vanjaar is haar werkkontrak summier met ’n settlement beëindig, iets wat Nikoleta sê sy onder druk geforseer is om te doen.

“Ek het daardie settlement onderteken, want ek weet waartoe die Joannou’s in staat is. Ek was seergemaak dat ons 40 jaar van vriendskap vir hulle niks beteken het nie.”

Nikoleta en Jolin het op 29 Maart in die hof getrou.

“Daar was nie geld vir ’n fênsie affêre nie en ná afloop daarvan het ons en my family sommer iets by McDonald’s gaan kry,” vertel Jolin­.

Die paar het hulle nou tot die Gelykheidshof gewend nadat daar nie uitsluitsel op hul saak by die CCMA was nie.

Volgens Jolin Lucas dagvaar hulle die Joannou’s nou vir R20 miljoen.

“Nie net is my vrou uit haar werk geforseer nie, maar ons het álles verloor: kar en blyplek.

“Ek self het my werk verloor en ek wat as man vir my vrou moet sorg, moet nou saam haar in ’n kamer by my ouers bly.

“Dis nie reg nie en ons gaan dinge nie so los nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters