5 maande gelede
‘Bloues is babylon’
verniel: Neil Gelderbloem sê dis die cops se werk dat sy pool-tafel en jukebox so lyk.Foto’s: kallie smit  ~ 

SARON. – Cops met bala­klawas het in­woners hier na be­wering geterroriseer en ’n ou ontvoer.

Volgens dié locals het lede van die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) ’n roetine drug bust verlede Saterdagaand in ’n aan­randingsorgie laat ontaard.

In die eerste voorval het ’n ou so erg deurgeloop dat hy hospitaal toe gevat moes word.

Hy is blykbaar ’n les geleer omdat hy uit die polisie se kloue probeer ontsnap het.

’n Ander ou is so geslaan dat hy 10 steke aan sy kop moes kry. Dít glo oor hy nie sy heksleutel by hom gehad het nie.

Beskadig

Toe word die bloues na bewering Babylon vir drie rastas wat op pad was na ’n troue.

Gareth Klaaste (38) vertel: “Dit was so 20:00 toe die cops ons uit my kar pluk. Daar was omtrent 15 vêns.

“Hulle kry toe twee stoppe ganja by my vriend Terswin Sauls en laai hom in een van die vêns. Hulle beskadig toe ook sommer my kar.

“Hulle wys my toe ’n lasbrief om my huis te deursoek, maar hulle het niks daar gekry nie.”

Klaaste sê die rastas word ge­durig geteiken, en dís hoekom die cops toe na sy vriend Neil Gelderbloem (38) se huis is.

Gelderbloem sê die cops het balaklawas gedra. Hy vertel: “Hulle het my vol kneusplekke geslaan met ’n besemstok.

“Toe ek hulle vra waar die R2 500 is wat op my bedkassie was, klap die een cop my amper flou en gee my net R1 000 terug.

“Die ander cops het intussen die pool-tafel en juke­box in my game shop flenters geslaan en ál die geld uitgehaal.”

Die stomme Sauls (29) het egter omtrent ’n nagmerrie beleef.

Toe Klaaste en Gelderbloem hom Sondagoggend by die polisiestasie opsoek, kon niemand vir hulle sê waar hy is nie.

Klaaste sê hy het toe vir die cops gesê hy hoop nie Sauls kom oor wat met hulle vriend Joseph Olivier gebeur het nie.

Son het voorheen berig dat Olivier (46) hom na bewering in die polisieselle opgehang het.

Dit was Sondag 12:00 toe Sauls in ’n gehawende toestand eers by sy twee vriende opgedaag het.

Hy het Son op Sondag van sy ordeal vertel. Sauls sê: “My hande was met cable ties agter my rug vasgemaak en die een cop het toe met my dorp-uit gery.

“Ná meer as ’n uur trek hy toe die vên by ’n jaart in, gaan maak die hek toe en gaan by die huis in.

“Ná so 15 minute is ons weer op die pad.

“Hy hou toe op ’n donker landjie stil en beveel my om agteruit uit te klim en op my maag te gaan lê.

“Hy sny die cable ties toe los en sê ek moenie opkyk voor hy weg is nie.

“Toe hy weg is, het ek tot by ’n brug geloop. Ek sien toe ’n Kuilsrivier-bord en besef ek is op die R300, meer as 100 km van die huis af.

“Drie ouens kom toe onder die brug uit en ek vertel hulle toe wat gebeur het. Hulle gee my toe ’n matras en ’n kombers. Ek het die volgende oggend uitgevind hulle is 28’s.

“Die een het toe saam met my tot by die Stikland-stasie gestap. Daar het ek ’n trein Wellington toe gevat.

“ ’n Oom op die trein het vir my kaartjie betaal. Ek het toe verder huis toe gehike.”

Trane

Klaaste sê een van die cops wat die vorige aand by was, het later opgedaag om verskoning te vra.

Dié was so bly dat Sauls oukei was, vertel Klaaste, dat hy hom omhels en in trane uitgebars het.

Dit blyk dat niemand ná ál dié beweerde polisie-wreedheid ge­arresteer of aangekla is nie.

Die drie mans het Maandag klagte­ van aanranding, beskadiging van eiendom, diefstal en ont­voering teen die cops gemaak.

Die bevelvoerder van die Saron-polisie, kapt. Lillian Patience, ag die klagte as ernstig en sê die onafhanklike polisie-ondersoek­direktoraat (Opod) sal dit ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters