12 dae gelede
Bergies suffer ook in Eikestad
onmenslik: JJ Albertus sê hulle munisipaliteit het geen deernis met hulle nie. Foto’s: ELDRIDGE JASON  ~ 

DIT sit nie in almal se broek om ’n bergie te wees en daagliks die elemente te face nie.

Haweloses was dié week omtrént in die nuus oor die Stad Kaapstad se toepassings van ’n by-law waarmee hy haweloses beboet en van die strate verwyder.

Hierdie optrede het mense oor die land heen moerig gemaak.

Die SA Menseregtekommissie (SAMRK) bekyk die City se aksies nou onder die vergrootglas.

Haweloses in die pragtige Bolandse dorp Stellenbosch maak egter ook nou hulle stem dik.

Hulle het genoeg moed bymekaar geskraap om te kla oor hoe hulle daar behandel word.

Simon Armoed (39) se ganse lewe is van geboorte af gevul met armoede.

Stilbly

Hy’t op straat grootgeraak en ken g’n ander way van lewe nie.

Hy sê hy kan nie langer stilbly oor hoe die munisipale wetstoepassers hom behandel nie.

Son op Sondag het by Armoed en die ander haweloses wat hy sy familie noem, ’n draai gaan maak.

Hulle het in die flou sonnetjie langs ’n plaaslike drankwinkel gesit en bak.

“Ek ken geen ander lewe as die straat nie,” vertel Armoed en gee ’n hoesie.

Hy verduidelik hy is ’n chroniese asmalyer.

Die konstante gegons van sy bors is ’n bewys daarvan.

“Daai law enforcement-mense kom skop my drieuur in die nag wakker. Hulle gee my dan ’n fine van R300 en sê ek is ’n nuisance.

“Maar hoe kan ek ’n nuisance wees? Hoekom my erger as ’n hond behandel?

“Hoekom nie die werklike kriminele gaan vasvat nie? Ek slaap mos net in ’n parkeerarea en pla niemand nie.”

Armoed vertel sy vrou is ’n jaar gelede deur ’n polisievên omgery en het later aan haar beserings gesterf.

Volgens Armoed probeer hy maar net ’n living maak.

“Dis nie maklik op straat nie, maar ons hou ons met eerlike werkies besig.

“Ek kan nie verstaan hoekom law enforcement ons treat asof ons niks is nie.”

Nie ver van hom nie staan Cornelia Cupido (45) met trane wat vlak in haar oë sit.

Haar man is vroeër die week aan tuberkulose dood. Die groot “T”.

Dis ’n siekte wat John Pears (39) volgens haar opgedoen het omdat die wetstoepassingsbeamptes hulle diep in die nag opgejaag het die koue in.

Cornelia kan nie meer onthou hoe lank sy al op straat is nie.

Al wat sy weet, is dat sy al vandat haar ma dood is, op straat rondswerf. Hoe lank haar ma al dood is, kan sy nie meer onthou nie.

“Ek weet nie wat nou van my gaan word noudat John dood is nie.

“Ek moet nou alleen voortsukkel met ons twee trollies besittings.

“John het TB gekry oor law enforcement ons elke keer diep in die nag kom wegjaag het. Nie een van ek of hy het meer ID’s gehad nie, want dis ook gesteel.

“Ek is bitterlik hartseer, want wie gaan nou na my kyk?”

JJ Albertus (38) sê plaaslike nagskuilings cater nie eintlik vir hulle nie.

“Hier by ons is net twee night shelters en hulle is meestal vol mense vanuit die Kaap, Joburg en Bloemfontein.

“Net as jy ’n Sassa grant kry, kan jy anyway langer as drie maande in dié shelters bly, so dis ’n mission om plek te kry.

“Dit is nie net law enforcement wat ons lewe hel maak nie, die ouens van security companies maak ons ook in die nag wakker en druk lang guns in ons gesigte.

“Ons lei rêrig ’n hondelewe onder dié mense.”

  • Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, sê haweloses is ’n universele bekommernis en nie uniek tot hulle munisipaliteit nie.

Grobbelaar sê hulle is bewus van die uitdagings wat mense wat op straat leef, in die gesig staar.

Hy sê hulle munisipaliteit het onlangs sy eerste beleid oor Stellenbosse straatmense saamgestel. Dit gaan nou ná deeglike konsultasie aan die raad voorgelê word.

“Die fokus van dié beleid is om vennootskappe met organisasies te sluit in die publieke en privaat sektor. Dit word gedoen om volhoubare maniere te vind om haweloses by te staan en in die gemeenskap te herintegreer,” verduidelik Grobbelaar.

Verbied

Hy sê die munisipaliteit het ook drie maande gelede ’n projek begin om haweloses aan te moedig om na shelters te verskuif.

Dit is om te verhoed dat hulle voor die ingange van winkels of op sypaadjies slaap. Dít word deur die by-laws verbied.

Grobbelaar sê hulle wetstoepassingseenheid het nie enige boetes aan haweloses uitgereik nie.

Son op Sondag het egter twee sulke R300-boetes onder oë gehad.

Volgens Grobbelaar het hulle in Junie slegs kennisgewings uitgereik aan herhaalde oortreders wat aggressief teenoor beamptes opgetree het.

“Geen aanrandingsklagte is aanhangig gemaak by die polisie teen ons munisipale wetstoepassingsbeamptes nie.

“Enige klagte van wangedrag teen een van ons lede sal in ’n ernstige lig beskou word en dadelik ondersoek word,” maan Grobbelaar.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters