Verlede maand
Baba uit haar geskeurde lyf gesuig

GRABOUW. – Twee maande nadat sy haar pasgebore baba aan die dood moes afstaan, oor ’n kraam wat liederlik verkeerd geloop het, soek ’n jong ma steeds antwoorde oor presies wat verkeerd geloop het.

Die datum 4 Oktober is ’n dag wat Juliana Louw (28) nooit sal vergeet nie.

Dit was die dag toe sy by die Caledon Hospitaal in kraam gegaan het – ’n kraam wat veronderstel was om ’n straightforward keisersnee te wees.

Maar toe, volgens Louw, besluit die verpleegpersoneel dat g’n keisersnit nodig is nie en sy in staat is om normaalweg die lewe te skenk – ’n proses wat vyf dae later tot haar babatjie se dood gelei het ...

Die seer sit vlak in Louw se oë as sy praat van die dag dat alles vir haar skeef geloop het. En die seer is ook in haar liggaam, want twee maande ná haar ordeal kan sy steeds nie ordentlik loop of sit nie.

“Ek sukkel om te verstaan hoekom my baba nie met ’n keisersnit die lewe ingebring is nie,” sê die hartseer mammie.

“Die personeel by die Grabouw Daghospitaal het dit dan duidelik in my lêer gestel dat my swangerskap ’n risikogeval was omdat ek al verby my due date was en die baba te groot was om normaal te kraam.

“Maar toe ek erge kraampyne in die hospitaal begin kry, toe vertel ’n nurse my daar is geen rede hoekom ek nie normaal kan kraam nie.”

Die uiteinde hiervan, sê Louw, was ’n nagmerrie-ondervinding wat sy nie eens haar grootste vyand toewens nie.

“Ek kon die baba nie uitgedruk kry nie en het twee keer my bewussyn verloor. Die dokter en nurses het self gesê hulle het nog nooit só baie gesukkel met ’n bevalling nie.

“Die nurses het drie keer met ’n sucking device of ’n ding probeer om die baba uit te suig, maar dit het nie gewerk nie.

“Toe die baba finally uitkom, was sy koppie pap en sy een ogie kon nie oopmaak nie.

“Ek het nie eens my kind vasgehou nie en die personeel is dadelik met hom weg.”

Pynstillers

Louw sê die baba, wat sy Cheslin wou doop, was aan verskeie masjiene gekoppel om hom aan die lewe te hou.

Maar die oggend van 8 Oktober het sy uit die waas van sterk pynstillers wakker geword toe sy hoor ’n nurse roep na haar.

“Ek het tydens die kraam van voor tot agter geskeur en kon nie eens reg loop nie, maar toe ek hoor ek word geroep, het ek opgevlieg en die hospitaalgang af gehardloop.

“In ’n kamertjie het my baba gelê. Hy was nie meer aan ’n masjien gekoppel nie en die nurse wou toe heel onsensitief by my weet of ek weet wat die prentjie voor my beteken.

“Dit was seker so negeuur die oggend en hulle het toe die lykie van my babytjie na my kamer gebring waar dit tot vyfuur die middag by my was.

“Ek is seer. Daai sucking-masjien het my onderlyf só beskadig dat ek seker ’n operasie sal moet ondergaan, want ek kon lank nie op my sitvlak sit nie. Ek moes lank op my knieë sit.

“As ek nou nog gaan pee, dan voel dit of my hele onderlyf wil uitval, maar wat my die seerste maak, is dat ek nou nog nie weet wat die rede vir my kind se sterfte was nie.

“Ek dink gruwelike nalatigheid het daardie dag plaasgevind en wens daar is ’n lawyer wat my kan help.

“Ek weet nie of hulle dink omdat ek ’n plaasmens is, kan hulle so met my maak nie.”

’n Woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, Roche Butler, sê hulle makeer meer tyd om alle inligting oor die voorval in te samel.

“Caledon Hospitaal simpatiseer met mevrou Louw en haar familie, want enige verlies van ’n pasgeborene is ’n traumatiese ervaring.

“ ’n Ondersoek is aan die gang en die bevindinge sal aan die pa­siënt deurgegee word,” het Butler verduidelik. 

hier gebeur: Die Caledon Hospitaal hou nare memories in vir Juliana Louw.Foto:designspaceafrica.com
haar smart: Louw sê hospitaalpersoneel het instruksies dat dit ’n risiko vir haar is om normaal te kraam, geïgnoreer en daarop aangedring dat sy normaal kraam.
erg hartseer: Juliana Louw sê sy weet nóú nog nie wat die oorsaak van haar baba se dood was nie. Foto’s: eldridge jason
Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters