21 dae gelede
Vervul jou ‘opdragte’
Nuut: Christian de Waal sê die lockdown het ’n ander uitkyk op die lewe gegee.  ~ VERSKAF

LOCKDOWN is die perfekte tyd om jou hemelse opdragte te vervul.

Só sê die skrywer, onderwyser en pastoor Christian de Waal van Mitchells Plain.

De Waal sê hy het ook in dié tyd geleer om sy gesondheid te waardeer en ernstig na sy liggaam te kyk om só ’n sterk immuunstelsel op te bou.

Op sosiale vlak het hy die waarde van vriendskap en familie besef.

“Die wêreld vereis só baie tyd van ons, ons besef nie altyd hoe skuldig ons daaraan is om vriende en familie af te skeep ten koste van eie doelwitte nie.

“Die Bybel verklaar in Mattheus 1: Die maagd sal swanger word om ’n seun te baar, en dat hulle hom Imma­nuël noem.”

Die woord Immanuël beteken God met ons.

De Waal wil mense bemoedig, al lyk dit vir hulle asof daar geen hoop is nie en asof God nie teenwoordig is nie. Hy sê Sy woord verklaar dat Hy altyd met ons is.

“Paulus sê so mooi in 2 Korinthiërs 5: Want ons weet dat ons aardse huis van hierdie tabernakel ontbind is, ons ’n gebou van God het, ’n huis wat nie met hande gemaak is nie, ewig in die hemel.”

De Waal verduidelik hy is dankbaar vir sy en sy familie se gesondheid.

“Ek is ook diep dankbaar dat ek en my vrou in dié moeilike ekonomiese tye ook ’n inkomste kan verdien.

Ingestel

“Ek kon in die lockdown ook my nuwe boek Begin Oor skryf. Dit handel oor hoe ons deur Christus se bloed elke dag kan oorbegin ten spyte van ons swakhede en foute.

“Die boek is geïnspireer toe die lockdown ingestel is en ons na sekere goed in die lewe moes kyk wat ons moes verander.”

Hy sê as onderwyser is daar soveel uitdagings, veral in die tyd van corona.

“Maar die Here is ons sterkte en Hy sal ons nooit alleen laat nie.

“So, hou goeie moed. Ons sal die stryd oorwin.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters