27 dae gelede
Ruben se lig skyn
Ruben Davids  ~ Foto Verskaf

DIE gospelsanger Ruben Davids van Macassar is baie opgewonde oor sy single “Staan Stryder Staan”.

Die talentvolle producer Marcus Pitie van Uitenhage het dit opgeneem.

Dié single gaan jou laat koordans en die volk laat lekker saam juig en jubel.

Ruben is dankbaar teenoor sy ouers, veral teenoor sy oorlede pa, Stanley, wat die Immanuel Her­lewing Bediening in Macassar begin het. Ruben se broer, Timothy, is nou die pastoor daar.

Ruben sê dit gaan daaroor om Jesus se liefde na ’n verlore wêreld te bring en jou lig te laat skyn.

Dis nou twee jaar dat Ruben as solo bass-kunstenaar optree.

“Die dryfkrag wat my laat opstaan elke oggend, is my besonderse seun, wat ’n hartprobleem het.

“Hy kyk op na my, so ek wil vir hom ’n voorbeeld wees, want ons gemeenskap is vaderloos.

“My seun is my inspirasie. Ek wil ’n goeie pa wees vir hom. Die Here gee my die krag.

“Die Here bly getrou. Laat ons in gehoorsaamheid wandel en só die wet van God vervul.

“Ek weet vir seker dat God my toevlug is in tye van benoudheid.

“Ek is dankbaar vir vriende en familie vir hulle ondersteuning.

“Die Here het ’n doel met ons lewe en ons moet in gehoorsaamheid wandel.”

Die gemeente reik gereeld uit in die gemeenskap van Macassar waar die nood groot is. Só maak hulle die verskil en verander lewens.

Begeerte

“Ek weet alles op die aarde is tydelik en verganklik, maar die liefde van die Here het geen einde nie,” vervolg Ruben.

“Die begeerte van my hart in 2020 is dít: Kom ons wees lief vir mekaar en ondersteun mekaar.”

Ruben se gunsteling-vers is Jesaja 60:22: “Die kleinste onder hulle sal duisende word, die swakste ’n sterk nasie. Wanneer die tyd daarvoor kom, doen Ek dit. Ek is die Here.”

Ruben sê: “Die wêreld is verlore en ons moet ons beskikbaar stel dat die liefde van die Here deur ons kan werk. Ons het mekaar elke dag nodig, want niemand is ’n eiland nie.

“Kom ons strewe elke dag om met volle oorgawe vir die Here te leef. Laat ons nie ophou goed doen nie, want op die regte tyd sal die deurbraak kom.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters