28 dae gelede
Onnie voel wonderlik
SO Wonderlik: Darwin Wewers is bly oor sy tweede kans. FOTO VERSKAF  ~ 

‘WONDERFULLY Made.”Dis nie net die titel van die gospel­sanger Darwin Wewers se jongste single nie, maar ook hoe hy voel die Here hom geskape het.

“Ek het ’n baie lae selfbeeld gehad, maar die dag toe die Here in my lewe kom, het ek besef Hy het my mooi gemaak,” sê Wewers, ’n onderwyser oorspronklik van Plettenbergbaai.

Hy woon tans in Kaapstad.

Dankbaar

“Ek het deur ’n moeilike tyd gegaan, maar toe ek in die Woord lees dat ek wonderlik geskape is, het ek die lied “Wonderfully Made” geskryf.

“Die skrif sê in Psalm 139 ’n mens is geskape na God se beeld. Ek is dankbaar dat die Here my ’n tweede kans gegee het. God sal ons nooit wees laat nie.

“Al bevind jy jou vandag in ’n woestyn, die Here is altyd daar.”

Wewers sê hy weet die lewe het baie beproewings en dat mens se geloof uitgedaag word, veral nou in die lockdown.

“Al word ons tot die uiterste getoets, kan ons vertrou op die Here, want hy stel nooit teleur nie.

“My gunstelingvers in die Bybel is: ‘Moenie bang wees, wees gerus en kyk die Here sal julle verlos.’”

Wewers gee klas by Hugenote Primêr in Tafelsig, Mitchells Plain.

Hy sê hy dank God vir sy skoolhoof wat hom altyd aangemoedig het om standvastig te wees te midde van sy stryd.

“Sy is ’n magtige Godsvrou wat altyd daar is met ’n woord van hoop. Ek is ook dankbaar vir my familie en vriende vir hul ondersteuning.”

Rebecca Malope, Joshua Jansen en Bella is gospelsangers wat hom inspireer.

“In die lockdown het ek kom leer die Here het ’n manier om ons tot stilstand te ruk om Sy wil te laat geskied.

“Hou vas aan God se beloftes en weet net – dit wat ons nou deurgaan, sal ook verbygaan.”

Bel hom by 073 421 0610 vir navrae.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters