5 maande gelede
‘Ma inspire my’
TOEGEWYD:Donovan Isaacs van Upington werk hard aan sy droom.FOTO VERSKAF  ~ 

DIE Here se genade dra hom nog altyd deur.

Só vertel die gospel-ster Donovan Isaacs. Hy kom oorspronklik van Keetmanshoop, maar is deesdae van Upington.

Hy vertel dat hy ten spyte van baie teleurstellings en uitdagings steeds kan sê die Here is goed.

Oor die lewe in die musiek­bedryf sê Isaacs: “Dis baie moeilik, veral wanneer jy nie so besig is met optredes nie.”

Harde lesse is ook volop: “Baie beloftes is aan my gemaak, maar aan die einde van die dag word dit nie waar nie.”

Tog sê die sanger hy glo die regte mense sal op die regte tyd oor sy pad kom. Hy wag “en vertrou net op die Here”.

Isaacs het in die kollig beland toe hy in 2007 deelgeneem het aan die musiekprogram Supersterre.

Daar het hy onder die topvyf geëindig.

Sy eerste gospel-album, Straight from the Heart, het toe die lig gesien, en dis gevolg deur Kalahari Gospel Treffers.

Isaacs kan ook gehoor word op New Nation Productions CD Vol. 1.

“Ek is baie opgewonde oor die geleentheid wat oor my pad gekom het. Op dié album sing ek twee liedere: ‘Hold on’ en ‘He Is There’.”

Isaacs is dankbaar vir die ondersteuning van Judy Blaauw, Alida Isaacs (sy suster), Johanna Swartz, Renchy Feris en Clemens Mans van Kruiskyk. Hy word geïnspireer deur gospelsangers soos die Amerikaners Donnie McClurkin, Yolanda Adams en Mariah Carey.

Sy grootste dryfveer is egter sy moeder, Minda Isaacs, wat altyd daar is en altyd vir hom bid.

En sy raad aan jong mense? “Moet nooit tou opgooi met jou drome nie; met harde werk en toewyding kan dit waar word.

“Bou voort op jou roeping en stel die Here altyd eerste in jou lewe – sukses sal volg.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters