Verlede maand
Luister en red ’n lewe
God is met ons: Vader Wilfred Noble en sy vrou, Florette, bedien die gemeenskap van Te­­­mbisa.  ~ Verskaf

DIE corona-virus-pandemie dwing gelowiges om tegnologies innoverend te wees.

Omdat daar tydens die lockdown geen persoonlike kontak mag wees nie en mense hulle van mekaar moet distansieer, word kerkdienste en pastorale boodskappe nou deur die tegnologie gebring.

Platforms in die sosiale media, soos WhatsApp, Facebook asook YouTube word hiervoor ingespan.

Vader Wilfred Noble van die Anglikaanse Kerk in Tembisa moedig mense aan om in die privaatheid van hul woning steeds Bybel te lees.

“Wees geduldig. Die lewe is kosbaar, so beskerm julself en jul geliefdes. Ons land het die gees om enige krisis te oorleef deur die Here, wat ons die krag gee. Ons het dit al oor en oor bewys.

“God het die mensdom geseën met gawes en talente om, soos in hierdie geval, ’n bedreiging soos ’n virus te oorkom. Plae kom al uit die Bybel se tyd aan,” sê Noble.

Met die geval van Covid-19 is daar spesialiste, mediese personeel en ander frontline-werkers wat hul lewe op die spel plaas vir ander se oor­lewing, voeg hy by.

“Dit is God se liefde in aksie. Die kerke kan nie nou oopgemaak word nie, so kom ons wees gehoorsaam aan die inperkingsreëls van die regering. Dis vir ons eie beswil daargestel.

“Die regering is absoluut reg: Kom ons vermy enige sosiale of kerklike byeenkomste. Die daaglikse getal infeksies moet eers afneem, en ons is nog nie naby dit nie.

Bedreig

“Daar word verwag dat die getal gevalle nog gaan styg.”

Noble voeg by beide die kerk en individue het ’n verantwoordelikheid om die regte ding te doen om lewens te beskerm.

“Die regering het ’n plig om ons te beskerm teen alle gevare en aan­valle wat ons lewe bedreig.

“In die geval van ’n onbekende en onsigbare virus wat ons lewe kan verwoes, is dit uiters belangrik dat ons by die reëls hou.

“Wees waaksaam en handel met wysheid en verantwoordelikheid. We shall overcome,” sê die vader.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters