2 maande gelede
‘Klipgooier’ wil nou kinders red
Luigi Phillipsfoto verskaf  ~ 

BAIE gelowiges in die Kaap ken Luigi Phillips as die “Pinksterseun” – iets wat God lankal gesê het gaan gebeur.

Dié gospelsanger van Manenberg vertel: “Ek was stout. Ek het mense met klippe gegooi en aan bende­aktiwiteite deelgeneem.”

Luigi het later besef dié weë is nie die moeite werd nie.

“Toe ek 11 was, het ’n vriend my na jeugdienste toe genooi. Ná die derde aand het ek ’n warm gevoel gekry. Die Heilige Gees het oor my gekom en daardie aand het ek my tot die Here bekeer. Ek dank die Here vir die redding van my kosbare siel. Ek het nog nooit teruggekyk nie.”

Maar hoe het dit dan gekom dat hy Pinksterseun genoem word?

“Toe ek eenkeer by ’n diens was, het die profesie uitgegaan dat ek as die Pinksterseun bekend sal wees.”

Luigi bieg aan die begin het hy glad nie van die naam gehou nie.

Hy vertel: “Later, toe ek by ’n diens in Ocean View was, het daar weer ’n profesie uitgegaan dat ek die Pinksterseun genoem sal word.”

Die jong sanger is ook betrokke by uitreike na die jeug.

Hy sê: “My harts­begeerte is dat die jeug hul hart verander. Sonder die Here in ons lewe is alles vergeefs.”

As jy die Pinksterseun beter wil leer ken, woon op 21 April sy Paaskonsert by Hope Ministries in Heideveld by. Ander kunstenaars wat optree, sluit in Peter Maart, Jonathan en Janine van Balla, Conley Lodewyk, Chanté Phillips, Nikitah Marlow, Grace Thys, Aneeshia Langeveldt en Step Up Ministry. As jy nog wil weet, bel Luigi by 061 670 4850.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters