2 maande gelede
Kerksusters: Ons leef in laaste dae ...
Glo vas: Van links is susters Margie Adonis, Desire Batties en Philida Olivier van die Volle Evangelie Kerk in Kraaifontein.  ~ Verskaf

DRIE kerksusters van Kraaifontein glo die mensdom leef in die eindtyd en dis tyd dat almal op hulle knieë moet gaan.

Suster Margie Adonis sê in dié tyd van Covid-19 praat God hard met die wêreld.

“Dis tyd dat ons ons knieë moet buig, want ons het die Here verlaat. Vanoggend het ek die Here gevra om ons te lei. Hy is die Erekoning!

“Hy ken ál ons weë en daarom is dit nou die tyd om die Here te soek soos nog nooit tevore nie.

“Dié is alles vir ons ’n toets in ons geloof, maar God het belowe dat Hy die uitkoms sal stuur,” sê suster Adonis.

Haar gunstelingverse in die Bybel is in Psalm 91, want “in die beskerming van die Allerhoogste is ons veilig.

“Die Here is getrou en sy bloed het nog nooit die krag verloor nie”.

Suster Philida Olivier sê sy weet ons leef in die laaste dae.

“Die Woord sê daar sal peste, oorloë en aardbewings wees. Dis tyd dat ons in gehoorsaamheid moet wandel en ons bekeer van ons verkeerde weë.

Waarsku

“Jona het hom bevind in die vis se maag. Dit was moeilike omstandighede.

“Hy is gegooi in die dieptes, maar God het hom bewaar. Net so sal die Here ál sy kinders bewaar.”

Suster Desire Batties weet God het almal lief en Hy waarsku die volk in dié tyd.

“Hy is besig om ons tot orde te roep en die enigste antwoord is bekering.

“Die Woord sê in Johannes 10:10: ‘Die dief kom om te steel, slag en verwoes, maar die Here het gekom dat ons lewe in oorvloed kan hê.’ So, wees nie bevrees nie, want God is met ons in dié krisistyd.”

  • Kontak suster Adonis by 071 890 6275.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters