3 maande gelede
Kerkmeisie reik uit
Jenna Bilong FOTO VERSKAF  ~ 

‘EK SÊ altyd Worcester het my ‘grootgemaak’, want ek het van agt af daar gewoon. Voor dit het ek in Bonnievale gewoon en deesdae is ek in Johannesburg.”

Jenna-Leigh Bilong, wie se boek Church Girl Problems onlangs uitgereik is, beskou haarself steeds as ’n trotse Bolander. Dis waar sy die uitsaai­wese betree het. “Ek het van 15 af by Valley FM uitgesaai en sewe jaar later by RSG my deurbraak na nasionale radio gemaak.”

Jenna sê sy skep baie moed uit die wete dat sy deur God se genade ’n verskil kan maak. Wanneer sy terugvoer kry van mense wat haar op TV of radio teëkom, word sy “opnuut geïnspireer om deur te druk”.

Die terugvoer is nie altyd opbouend nie. “Ek herinner myself altyd daaraan dat elkeen geregtig is op hul opinie en dinge uit ’n ander perspektief sien, maar dit wil nie sê alles wat almal sê, is korrek of objektief nie. So ek hoor dit, neem kennis daarvan en oordeel of dit iets is waaraan ek aandag moet gee.”

Jenna sê sy weet goed waar sy vandag is, is “absoluut die guns van God”. En so amper het ons haar nooit leer ken nie; dié Chicken Licken-liefhebber vertel dit was in ’n stadium haar grootste droom om vir Rainbow Chicken te werk!

Teruggee is vir Jenna uiters belangrik – nie net in die vorm van geld nie, maar veral wat vaardighede betref en die skep van geleenthede om vroue te bemagtig. Haar nuwe boek handel juis oor die probleme wat kerkmeisies deesdae face.

“Ek kyk na lesse wat ons van die Bybelse kerkmeisies kan leer. Dié boek is ’n next level in my skryfloopbaan,” sê Jenna, wie se debuut, Goedheid en Guns: Agter My Swirlkous, in 2014 verskyn het.

“Daar is ’n wanpersepsie dat jy geen probleme gaan hê nie as jy ’n wedergebore kind van God is.”

Dankbaar

Sy vertel haar liefde vir skryf kom van haar ma af, want kleintyd het sy haar altyd met ’n pen en boek gesien. “Woorde was nog altyd ’n groot deel van my familie, of dit nou in die vorm van preke, liedjies of gesprekke in die kombuis is.”

Jenna glo in “destiny connectors”. Ek’s dankbaar vir mense soos Francois Marais van Valley FM, dr. Deon de Villiers van die Nasionale Instituut vir die Dowes en Magdaleen Kruger van RSG, wat potensiaal in my kon sien toe ek dit nog self nie geglo het nie.”

Nog iemand op wie sy steun, is haar man, biskop Ed Bilong. “Hy is kalm, wys en ondersteunend. Ek kan soms nie glo God het my met hom geseën nie!”

Verhoudings en die lewe vereis dat jy jouself ken en Jenna sê: “Spandeer baie tyd daaraan om jou identiteit in Christus te verstaan. As jy nie weet wie jy is nie, is daar baie wat met graagte vir jou ’n verkeerde prentjie sal skep van wie jy is. Dit kan lei tot baie onnodige foute wat jy kon vermy.”

  • Besoek churchgirl.co.za as jy die boek Church Girl Problems of die Bilongs se ander produkte wil bestel.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters