5 maande gelede
Janene sing al van toeka af
Janene Kennedy RabieFOTO VERSKAF  ~ 

‘EK HET in die kerk grootgeword en is opgelei vir die evangelie.”

So sê die psalmis Janene Kennedy Rabie, wat al van driejarige ouderdom af sing.

Rabie vertel sy het op 12 al voluit geleef vir die bediening waar haar pa die pastoor was.

Haar eerste opname was op 14 met die album Surrender, wat gereeld op CCFM en Radio Tygerberg gespeel is

Daarna het ’n live DVD met die titel And the Angels Sing gevolg.

Dié is by die SABC opgeneem en haar broer, die gospelsanger Spencer Kennedy, was die regisseur.

Haar musiekreis het nie daar geëindig nie. Sy het 12 jaar saam met die baie gewilde People’s Gospel Choir opgetree. Al Etto was die regisseur.

Rabie sê net om te kon werk met “Pappa Etto”, wat in 2013 oorlede is, was vir haar ’n groot leerskool.

Rabie en Etto se vrou, Ginger, het die bekende lied “Jy Moet Sterk Wees” saam opgeneem.

Rabie het toe ’n ruskans gevat om weer oor die pad vorentoe te besin.

“Ek is baie gelukkig getroud met Earl (Rabie) en sy ondersteuning is wonderlik.”

Rabie sê Jonathan Rubain het haar genader om vir hom as agtergrondsanger op te tree.

“Dit was ’n ongeloof­like ervaring om saam met dié talentvolle musikant deur die land te toer,” borrel sy.

Sy is steeds saam met Rubain in die groep Jesus Collective en hulle reik gereeld uit na dorpe waar hulle die evangelie van hoop vir gemeenskappe bring.

Rabie kan by 076 580 1877 gekontak word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters