5 maande gelede
God is eerste
sing saam: Cheslyn Nero, Tamaryn Hendricks en Julian Petersen doen wat hulle liefhet.  ~ 

DIE boorling van Atlantis wil ’n verskil in die jeug se lewe bring.

So vertel die talentvolle sanger-regisseur Warren Hendricks, wat nou in Kraaifontein woon. Hy sê hy en sy groep, World of Worship, is baie opgewonde oor hul nuwe single, “Now More Than Ever”, wat hy self geskryf het.

Hulle wil dit op 29 Junie uitreik.

Warren vertel die lied gaan oor dat jy God eerste in jou lewe moet stel en Hom alleen met jou hele hart moet dien.

Die groep wil deur sy musiek siele tot uitbreiding van God se Koninkryk bereik.

Die lede van die groep is Cheslyn Nero, Julian Petersen en Tamaryn Hendricks en hulle is almal van verskillende gemeentes.

Volgens Warren fokus hulle op die ontwikkeling van die jeug, maar hul verhouding met God kom eerste.

Hulle kom elke laaste Vrydag van die maand bymekaar en wil graag jong mense uitnooi om betrokke te raak en ’n positiewe impak te maak.

“Dis ons begeerte, wanneer ons bymekaar kom, dat die jeug ’n aanraking van God sal ontvang,” meen Warren.

“Ons is dank­baar vir die ondersteuning van hul ouers en fans en sien altyd uit na die volgende samekoms.

“In moeilike tye is die Woord van die Here my anker en wanneer ons as ’n groep bymekaarkom, is daar altyd ’n hegte band van eenheid.”

Warren se advies aan die jeug is: “Soek eers die Koninkryk van God en ál die ander dinge sal vir jou bygevoeg word.”

Die groep werk tans aan hul album en die plan is om dit later vanjaar uit te reik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters