27 dae gelede
Album is hier
OORWINNAAR: Die gospelsanger Elsimio “Dimmy” Smit reik sy eerste album uit.FOTO VERSKAF  ~ 

‘DIE woord van God inspireer my en elke­ Skrifgedeelte wat ek lees, word ’n lied vir my.”

Die gospelsanger Elsimio Smit van Uitenhage, beter bekend as Dimmy in die gospelmusiekbedryf, vertel in moeilike tye speel hy sy kitaar. Hy sê dit kalmeer hom en vat sy gedagtes “na ’n rustige plek in sy siel”.

Hy voeg by: “Ek is so diep dankbaar vir my ouers wat my kon grootmaak in ’n huis waar die Here gedien word. Dat ek die Here in my lewe aangeneem het, is die beste ding wat ooit met my gebeur het.”

Hy luister graag na alle tipe gospelmusiek, maar die legendariese gospelsanger Benjamin Dube se musiek doen dit die meeste vir hom.

Anker

Smit verduidelik sy familie is sy dryfkrag, want hulle ondersteun alles wat hy aanpak.

“Die Woord van die Here is my anker. My gunsteling-vers in die Bybel is Jeremia 29 vers 11.”

Smit sê sy eerste album is op dié Skrifgedeelte gebaseer.

“Een ding weet ek vir seker – die Here hou my lewe in Sy hande.

“My hart is dankbaar teenoor my ouers en ons gemeente by die Christen Gemeentekerk, want dis waar ek my sangbediening kon uitleef.”

Smit verduidelik sy eerste album, Toekoms, verwys na sy vroeëre lewe toe hy geen rigting gehad het nie.

Hy voeg by dit het verander nadat hy die Here gekies het.

Die album word vandag by die AGS-gemeente Lofdal bekend gestel.

Die gaskunstenaars wat gaan optree, is onder andere Alton Zakay, Ruben Davids en Delivia en Jonathan Curtis. Dit begin 18:00 en die kaartjies kos R100.

  • Bel Smit gerus by 073 140 0174.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters