4 maande gelede
Romerige pastapot met bacon, biltong
kry sy ‘deksel’: Biltong, bacon­ en pasta maak ’n smullekker potjie. FOTO VERSKAF  ~ 

EEN item op Jan Braai se lysie vir insluiting in sy boek het ’n baie lang naam: biltongpasta­potjieresep.

Dié tipe ding kry ’n mens dikwels by potjiekoskompetisies in die noordelike dele van die land, vertel hy.

Honger gaste by sulke geleenthede is gaande daaroor.

Terwyl Jan resepte bymekaar gemaak het, het ene Henk vroeg-vroeg die grondslag vir dié een vir hom gestuur.

Met elke biltongpastaresep wat hy daarna ontvang het, het hy ’n paar veranderinge aan die oorspronklike aangebring.

Henk het dit byvoorbeeld nou nie in sy resep gespesifiseer nie, maar Jan hou daarvan om die meeste van die biltong in ’n voedselverwerker fyner te maak voordat hy dit by die res van die bestanddele voeg.

Hierdie resep maak genoeg kos vir 4 tot 6 mense.

WAT JY NODIG HET

2 sopies olyfolie

2 uie, gekap

3 knoffelhuisies, gekneus en gekap

1 x 200 g-pakkie bacon, in blokkies gesny

250 g knopiesampioene, elkeen gehalveer

1 blokkie beesvleisaftreksel

2 k (500 ml) kookwater

½ k. (125 ml) witwyn

1 x 50 g-pakkie tamatiepasta

500 g “kort” pasta (soos penne of skulpies)

250 g biltong

1 k. (250 ml) volroommelk

250 g of meer cheddarkaas, gerasper

1 k. (250 ml) vars room

gemaalde swartpeper en platblaarpietersielie vir voorsit

LAAT WAAI!

1. Verhit die olyfolie in jou potjie en braai die gekapte uie totdat dit deursigtig is. Skep dan die knoffel, bacon en sampioene by. Hou aan met braai totdat die bacon gaar is.

2. Los die blokkie beesvleis­aftreksel in die kookwater op en giet dit en die witywyn by die potjie. Druk ook die tamatie­pasta in die potjie uit. Meng alles deeglik.

3. Voeg die pasta en biltong by. Roer die mengsel deeglik en sit dan die potjie se deksel op. Laat prut so vyf minute en haal dan die deksel af.

4. Roer die volroommelk, kaas en room by. Laat dit nou so 10-15 minute prut totdat die pasta gaar is en jy tevrede is dat die sous dik genoeg is. Natuurlik moet jy tussendeur in die potjie loer. As hy droog raak en dit lyk of hy wil aanbrand, kan jy nog ’n bietjie water bygooi.

5. Sodra die pasta gaar is en jy tevrede is dat die sous dik genoeg is, is die maaltyd reg om opgeskep te word. Sit dit voor met die ekstra swartpeper en pieter­sielie. Smaaklike ete!

DIÉ week se resep kom weer uit Jan Braai se gewilde boek Shisanyama: Braai­resepte van Suid-Afrika. Soos gewoonlik hou hy dit eenvoudig. ’n Paar staatmaker-bestanddele soos knoffel, bacon, biltong, kaas en room word saamgesit om ’n maaltyd te berei wat vir seker gou ’n gunsteling sal word. Koningskos, tjop-tjop!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters