2 maande gelede
Ribbetjies uit heel boonste rak
KOM VAN VER: Jan Braai het die idee gekry van ’n ou wat op ’n myn in Australië gewerk het.FOTO VERSKAF  ~ 

JAN Braai vertel ene Les het die grootste deel van dié resep aangestuur.

Les het dit gekry by ’n kok op ’n goudmynkamp in Wes-Australië waar hy gewerk het.

Volgens Jan is die geurkombinasie ’n wenner. Hy het ’n paar dinge verander dat dit by die Suid-Afrikaanse braaistyl kan pas en nou glo hy dis goud werd.

Dis ’n netjiese snit en maklik om te braai en dit lyk nice op foto’s. As ’n bonus het rugribbetjies gewoonlik meer vleis aan as gewone varkribbetjies.

Dié resep maak genoeg kos vir 4 mense.

WAT JY NODIG HET

1 t. (5 ml) sout

1 t. (5 ml) peper

1 t. (5 ml) knoffelpoeier

1 t. (5 ml) fyn gemmer

1 t. (5 ml) fyn komyn

1 sopie paprika

1 sopie worcestersous

1 sopie suurlemoensap

1 sopie olyfolie

½ k. (125 ml) tamatiesous

½ k. (125 ml) blatjang

2 kg varkrugribbetjies

LAAT WAAI

1. Meng al die bestanddele in ’n bak terwyl jy die ribbetjies eers eenkant hou. En as jy nie rugribbetjies in die hande kan kry nie, gebruik sommer net gewone varkribbetjies.

2. Braai die ribbetjies heel oor matige kole vir so 30 minute tot byna gaar. Draai die vleis gereeld. Moenie in hierdie stadium die vleis sout of geursel gebruik of jou mengsous aanverf nie. Braai die vleis net so.

3. Haal die ribbetjies van die kole af en sit dit op ’n kerfplank. Sny die ribbetjies los van mekaar.

4. Pak die ribbetjies in die sousbak en wikkel die spulletjie rond. Gebruik ’n lepel en maak seker jy kry baie sous oor al die vleis. Dit kan help as jy die bak se deksel opsit en dit rondskud. Laat hulle so ’n minuut of drie “jacuzzi” sodat die vleis met die sous kan praat en die sous absorbeer. Jy hoef nie jou swembroek aan te trek nie, dis nie ’n regte jacuzzi nie.

5. Braai die sousbedekte ribbetjies 2-10 minute totdat al die sous warm is en mooi blink. As die ribbetjies basies gaar was toe jy dit gesny het, kan dit nou uitdroog. Braai hulle dan net ’n minuut of twee dat die sous kan glaze. Maar as jy sien hulle het nog ’n entjie om te gaan, maak dit nader aan 10 minute of selfs langer. Stel ook albei kante van die vleis aan die kole se hitte bloot.

En wanneer dit gaar is, kan jy gerus maar wegval!

DIÉ week

se resep kom weer eens uit Jan Braai se gewilde boek Shisanyama: Braairesepte van Suid-Afrika. Hiervoor braai jy eers jou ribbetjie heeltemal gaar voordat jy hom onvergeetlik maak met ’n smullekker marinade. Boonop is die oorvryfsousie vinnig en maklik om te maak. Vergeet van ure in die kombuis!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters