2 maande gelede
Biltong-steak is ’n baie spesiale treat
VINGERLEK-LEKKER:Jou gaste gaan jou smeek vir nog van dié ekstra spesiale biltong-steak.FOTO VERSKAF  ~ 

CRAIG is ’n baie talentvolle fotograaf en avontuurlustige man. Wat ook belangrik is, is dat hy uit ’n familie kom waar die slagters-wortels diep loop.

Die Colesky-naam is welbekend in Oos-Kaapse vleis-kringe en dít is een van hulle familie-resepte.

Dis ’n goeie manier om ’n gewone steak in iets spesiaals te omskep.

Die resep vereis ’n biltong-kruiemengsel. As jy jou eie biltong-kruiemengsel het, geluk!

Vir die res van julle, gaan maar net na jou gunsteling-slagter en bedel, leen of koop van sy of haar kruiemengsel.

Al is die resep hier onder vir vier mense, kan jy dit vergroot om net soveel mense te laat eet as wat jy wil.

Gebruik omtrent 250 g steak per persoon en onthou om die ander bestanddele aan te pas.

WAT JY NODIG HET

(vir 4 mense)

4 porsies lendesnit- of kruissnit-steak of 250 tot 300 g elk

VIR DIE MARINADE

2 sopies biltongkruie

1 sopie water

1 sopie worcestershiresous

1 sopie bruinasyn

LAAT WAAI

1. Meng al die bestanddele vir die marinade (wat in dié geval eintlik ’n soutoplossing is) ’n dag voor die braai in ’n bak wat groot genoeg vir die steaks is. Die mengsel sal lyk soos ’n tipe pasta (’n smeer – nie ’n noedel nie).

2. Sit die steak in die pasta en vryf hom lekker in met jou hande totdat jy seker is die vleis se hele oppervlak is met marinade bedek.

3. Bedek die bak en hou die vleis in die yskas vir om en by 24 uur. Beplan dus jou braai ook daarvolgens.

Gaan loer darem deur die dag so een of twee keer na jou vleis om dit om te draai of nog pasta in te vryf. Dis net om seker te maak dinge loop nog mooi en albei kante van die steaks kry kans om onder in die bak te lê waar dit met die sappe kan kuier.

4. Haal die vleis op die dag wanneer jy wil braai uit die yskas sodat dit nie kouer as kamertemperatuur sal wees wanneer jy braai nie.

5. Wanneer die kole reg is, braai die steaks oor die warm kole vir om en by vier minute aan elke kant, en nie vir meer as ag minute altesame nie, tot medium-rou.

6. Haal die vleis van die rooster af. Laat dit ’n paar minute lank rus en sit dit gesny voor of in repies gekerf.

DIÉ week

se resep kom weer eens uit Jan Braai se gewilde boek Shisanyama: Braairesepte van Suid-Afrika. Dit is ’n maklike resep vir steaks en jy hoef glad nie baie voorbereiding daarvoor te doen nie. Maar neem kennis, dit word wel ’n dag voor die braaidag gedoen. Jy gaan omtrent ’n hit wees met hierdie lekker steaks.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters