6 maande gelede
Winnie se dood is ’n diep verlies
Winnie Maikizela-Mandela op haar 80ste verjaardag. Foto: Peter Abrahams  ~ Peter Abrahams

MAM’ Winnie is weg. Haar gebalde vuis, skoonheid en diep stem is heen.

Ons onthou die seges en skandes – afhangend van waar jy jouself in die bevrydingstryd gesien het.

Haar volgelinge, tydgenote en cadres weet daar was net een Nomzamo Winifred Madikizela-Mandela. ’n Vegter wat die destydse apartheidsregering vreesloos en onversetlik soos ’n rots gekonfronteer het.

Hulle het haar probeer breek deur haar na Brandfort te verban, waar sy in haar 18 maande van isolasie ’n deel van haar siel ingeboet het. Tog het sy haar merk gelaat met klinieke en opheffingsprogramme – en meer defiant as ooit geword.

Kritici van Mam’ Winnie sal jou herinner aan haar ontrouheid aan Madiba, haar uitlatings oor vuurhoutjies en motorbande en haar aandadigheid – dalk – aan Stompie Seipei se moord. Dit is waarskynlik diegene wat nie insig of deel gehad het aan die bevrydingstryd nie of nog altyd op die kantlyn gestaan het. Ignorance is bliss, lui die gesegde. Hulle sal hierdie diep verlies aan ’n vryheidsvegter nooit verstaan nie.

Ek onthou ’n onderhoud jare gelede waarin sy gevra word of Suid-Afrika en “haar mense” in haar leeftyd vryheid sal smaak. Sy het vol selfvertroue geantwoord: “Ja!” Daar was nie ’n sweempie van twyfel by haar nie, hoewel die meeste van die gesigte van die vryheidsbeweging – mense soos Oliver Tambo, Walter Sisulu, Nelson Mandela – onsigbaar in die land was.

In haar boek, 491 Days, praat sy oor die dae in isolasie: hoe sy vriende met die kakkerlakke gemaak het, ál meer met haarself begin praat het; die vernedering van menstruasie sonder die waardigheid om haarself eens skoon te maak.

Dié imbokodo (rots), ’n gebore Pondo-prinses, moes vuil op ’n sementvloer slaap. Weg van haar man, haar kinders, haar mense. Alleen.

Haar comrades en kinders sal jou verhaal op verhaal vertel van haar omgee, waaksaamheid en toewyding tot opheffing en vryheid. Sy en ander vroue het ANC-strydrosse soos Madiba se ideale aan die gang gehou terwyl hulle in tronke weggekwyn het of na vreemde lande moes vlug.

Die prys wat sy moes betaal as jong bruid en jong ma wat nie haar kinders in daardie kwesbare vormingsjare kon sien en grootmaak nie, is hartverskeurend. Hoeveel van ons sou dít kon verduur?

In ’n brief aan Madiba sluit sy af met die gedagte dat hy reg was toe hy gesê het hy het met moeilikheid getrou: “You were right when you said you had married trouble, because trouble is what I am going to give them. I will continue to fight each day for our people.”

En dit is presies wat sy gedoen het. Op haar eie terme. Sy het nooit in Madiba se skaduwee geleef nie. Sy het in 1955 die eerste swart vrou geword wat as maatskaplike werker in die Baragwanath-hospitaal in Soweto begin werk het. Op 22, nog voordat sy Madiba ontmoet het, was sy al sterk in haar politieke oortuigings.

Ná hul egskeiding in 1996 het sy ’n punt daarvan gemaak om bekend te staan as Winnie Madikizela-Mandela. Sy was tot haar dood toe die Mother of the Nation. So sal ons haar onthou. Long live!

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters