26 dae gelede
‘Vierde trimester’ is regte monster
 ~ 

NIEMAND berei jou voor vir die ervaring as ma nie.
Dit word net aanvaar alle vroue het ’n moedersinstink en ’n band tussen ma en baba uit die staanspoor.

Maar dis nie ’n gegewe nie. Vra die duisende ma’s oor die heelal heen. Ja, daar is ’n emosionele kwesbaarheid, want jy het pas gekraam. Maar die aanpassings en die bondeltjie vreugde se afhanklikheid van jou kan oorweldigend wees.

Die baby blues tref jou gemoed daai eerste tien dae en jy troos jouself dat jou hormone moet herstel, maar soms sny daardie blues veel dieper. Dan is dit nageboortelike depressie.

Navorsers van Northwestern Medicine berig in JAMA Psychiatry dat nageboortelike depressie ongeveer een uit elke sewe nuwe ma’s raak. In hulle studie, wat sowat 10 000 ma’s betrek het, het hulle bevind byna 22% van hulle was steeds depressief toe hulle ’n jaar daarna opgevolg het.

Dit diskrimineer nie. Jy kan ’n nuwe mamma wees of jou derde kind baar of selfs ’n suksesvolle loopbaan hê. Kyk na Serena Williams, wat vanjaar uitgepraat het oor haar postpartum-depressie.

Serena noem dit jou “vierde trimester”, want die geboorte is steeds deel van die swangerskap.

’n Psigiater, dr. Hoepie Howell, verduidelik dit Vrydagoggend vir my so: Stel jou voor jy kry ’n belangrike besoeker wat by jou kom bly, maar hulle kan glad nie jou taal praat nie. Hulle kan jou nie vertel wat hulle behoeftes is nie. Jy moet leer wat beteken elke geluid.

Dit is soos om ’n heel nuwe woordeskat te leer. Wat die gehuil in een oomblik beteken, kan later vanaand iets anders beteken en jy moet deurlopend alles probeer ontsyfer. Jy kan nie pause druk nie – jy moet in die oomblik optree en voorsien. So bou jy en jou besoeker (die baba) jul verhouding op geluide.

Toe ons die lyne oopgooi vir ma’s en pa’s om te praat oor nageboortelike depressie, kon ons nie voorsien dat so baie ouers in trane sou wees nie. Daar word nie genoeg gepraat oor hoe die “monster” goeie verhoudings en huweliksmaats “opvreet” nie.

Karen vertel hoe sy plannetjies beraam het om haar lewe te neem en haar kind te laat aanneem, sonder haar man se wete. Christopher het in trane vertel hoe sy vrou ly en hoe hy ál meer huishoudelike take moes oorneem, want alles was te oorweldigend. Hulle het ’n sewejarige dogter gehad, toe ’n tweeling en pas ’n onbeplande baba.

Tyd is nie ’n faktor nie. Sommige ma’s het met hulle derde kind nageboortelike depressie gekry, ander tydens hulle swangerskap ’n intense melancholie.

Dr. Hoepie sê juis medici en verloskundiges moet tydens die swangerskap meer bedag wees op die tekens en met paartjies gesels en angstigheid beheer.

Tydens swangerskap ervaar die liggaam hormonale verskille en daar is medici wat meen dit neem ’n vrou se liggaam sowat vyf jaar om te herstel. Die skade op ’n verhouding moet ook nie gering geskat word nie. Terwyl ma en kind ’n verhouding bou, verg die dinamika tussen die ouers ook aanpassings. Selfs Serena, met al die geld en hulp in die wêreld, sê dit kan jou ’n kishou slaan as jy onvoorbereid is of nie daaroor praat nie.

LYNETTE FRANCIS, aanbieder van die aktualiteitsprogram Fokus op SABC2 en die geselsprogram Praat Saam op RSG, gee haar indrukke oor die mense wat op haar pad kom en die onder­werpe waaroor hulle gesels.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters